Vier sake-eienaars van Molteno het ingespring om projekte te dryf vir die instandhouding en opgradering van die dorp se openbare parke en om dié dorp nuwe lewe te gee.

Pieter en Elize van der Merwe wil saam met Rosa Cloete en Dirk Erasmus dié klein dorpie se beeld weer in ere herstel.

“Oor die vakansietyd het baie besoekers op ons dorp gestop en heelwat van hulle het gesê dat Molteno ’n baie mooi dorpie is, maar dis jammer die dorp is nie so skoon soos ander kleiner dorpies nie,” sê Elize.

Volgens haar het die dorp geen munisipale vullisverwyderingsdiens nie en inwoners stort hulle vullis net waar hulle wil.

Dirk en Rosa het ’n vergadering met belangstellende inwoners gehou om die projek Molteno Clean-Up te loods.

Projekte wat reeds afgeskop het sluit in:

  • Inwoners het begin om maandeliks finansieël by te dra tot die skoonmaakprojek. In die eerste week is meer as R2 000 inbetaal.
  • Vullis is uit strate en vanaf sypaadjies verwyder. ’n Stootskraper is deur ’n inwoner gefinansier om die stortingsterrein skoon te maak.
  • Die openbare park is skoongemaak, bome is gesnoei en die historiese kanon is weer in sy oorspronklike kleur geverf.
  • Klippe by die dorps-ingang, wat deur betogers daar gepak is, is verwyder.

Aksieplanne vir die toekoms sluit in:

  • Geverfde klippe in die park gaan weg- geneem word na begraafplase toe. Inwoners wat nie grafstene vir hulle geliefdes kan be-kostig nie, is welkom om dit te gebruik.
  • Boere is versoek om 200 liter dromme te skenk. Dit sal deur die leerders en onderwysers van die plaaslike hoërskool geverf word en as asblikke dien wat weekliks skoongemaak sal word.
  • Sodra die parkie se opknapping voltooi is sal ’n bring-en-braai vir die gemeenskap gehou word.
  • In Mei word ’n damestee beplan om fondse in te samel vir die skoonmaakprojek. Die sprekers tydens dié geleentheid is dr. Rika Pienaar, ’n onkoloog en borskan-kerspesialis van Kaapstad sowel as Mari Hudson van RSG.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article