Pierre Scheepers (links) en Morné Scheepers (middel) van Leon Ontwikkeling het vanjaar 23.81 ton mielies per hektaar gelewer. By hulle is Dirkie Visser, besturende direkteur van Cradock Saad. Foto:VERSKAF


CRADOCK se Mielieklub het vanjaar net-net onder ’n fenomenale 24 ton per hektaar gelewer.

Die Mielieklub, wat in 2014 gestig is, se prysuitdeling van die afgelope vyf jaar se resultate, is verlede Saterdagaand op Buffelshoek Lodge buite Cradock gehou.

Dirkie Visser, besturende direkteur van Cradock Saad, sê die doel van die kompetisie is om boere uit te daag om die hoogste tonnemaat mielies moontlik per hektaar te verbou.

“Toe die kompetisie begin is, het 20 ton per hektaar na ’n onbereikbare mylpaal geklink, maar vanjaar het nege uit 20 deelnemers hierdie mylpaal behaal,” het Visser gesê.

Vir die eerste vyf jaar het die Mielieklub die kompetisie die 20 ton-kompetisie genoem. Vanjaar is dit verander na die nuwe mylpaal, die 30 ton-kompetisie.

Mielieklub-boere oes gemiddeld nou net onder 24 ton per hektaar. So die strewe is nou om 30 ton per hektaar van die mielielande af te haal.

Die beoordeling van die kompetisie vind in twee streke plaas, ’n Suid-streek (plase suid van Cradock) en ’n Noordstreek (plase noord van Cradock).

Vanjaar se wenners in die Suidstreek is Leon Scheepers van Leon Ontwikkeling, wat 23.81 ton per hektaar gelewer het. Kort op sy hakke was André Marais, met 21.35 ton, gevolg deur Kobus le Roux met 21.06 ton. Hulle is al drie van die Cradock-distrik.

In die noordstreek het Kobus Marais van Hofmeyr voorgeloop met 22.22 ton per hektaar. In die tweede plek is Abraham Steyn van Venterstad met 21.80 ton, gevolg deur Jannie Zwiegers van Steynsburg met 21.65 ton.

Visser het gesê hy is positief dat die 30 ton mielies per hektaar haalbaar is.

“Nuwe tegnologie, nuwe kultivars asook die regte kunsmismengsels met mikros vir die grond maak dit haalbaar.

“Daar is alreeds oor die afgelope vyf jaar die hoogste opbrengs van 23.92 ton per hektaar bereik.”

Lourens Conradie was die seremoniemeester by die prysuitdeling en die Jak de Wet Kwartet het gesorg vir die musiek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article