Raadslid Ada Sammy en Midros inwoners het verlede Vrydag ’n gedeelte van die stormwatersloot in Midros begin skoonmaak. Tuinafval, huishoudelike vullis en grond bedek die afvoersisteem heeltemal, en selfs met geringe reënbuie raak die strate onbegaanbaar. fOTO: ELSABé PIENAAR

Raadslid Ada Sammy Vrydagmiddag by een van die voetgangerbruggies oor die stormwatersloot in Rivierstraat. Dié strukture wat voetgangers oor die sloot moes help, het nou ’n kuierplek vir kwajongens geword. Die hoop vullis daarnaas gee ’n aanduiding van die hoeveelheid vullis wat die volle lengte van die afvoersloot bedek. FOTO: ELSABE PIENAAR

INWONERS van Rivierstraat in Midros het Vrydag begin inspring om die ernstig verwaarloosde stormwatersloot wat slegs enkele meters van hul huise af geleë is, skoon te maak.

Wyksraadslid van Inxuba Yethemba munisipaliteit, Ada Sammy, sê sy wend al maande lank pogings aan om die probleem aan te spreek, maar haar pleidooie vir ’n grootskaalse opruimingsaksie val op dowe ore.

“Die sloot is heeltemal toe onder grond, onkruid en vullis. Dit is eintlik ’n diep sisteem wat broodnodig is om stormwater te kan afvoer, maar niemand luister nie.”

Reeds met vorige reënbuie die afgelope seisoen het verskeie strate in Midros heeltemal oorstroom. Omdat die sloot in Rivierstraat geen water kan wegvoer nie, dam dit op in dié straat en stoot ook in massas op in aangrensende strate, té diep om vir voertuie begaanbaar te wees. Wonings kan dan slegs te voet bereik word deur die kniediep watermassa op sypaadjies aan te durf.

“Ons betaal ons erfbelasting en dienste,” het ’n inwoner gekla toe Mid-Karoo Express die woongebied besoek het.

“As ons dit nié betaal nie, sny IYM ons krag. Is dit te veel gevra dat die munisipaliteit die sloot kom skoonmaak? KwaNonzame se strate lyk nie so nie.”

“Ek probeer help op eie onkoste waar ek kan,” sê raadslid Sammy. “Maar ongelukkig is my bakkie en ’n paar werkers nie genoeg om dié situasie effektief op te los nie. Mens het eintlik masjinerie nodig om al dié grond te verskuif, en ’n groot sleepwa om die vullis na die stortingsterrein te skuif. Ek weet nie wanneer daar aan ons pleidooie gehoor gegee gaan word nie, maar die afgelope Somer was nie ’n baie nat seisoen nie, en tog het ons baie skade gehad vanweë die verstopte sloot.

“Dit gaan net een groot reënbui kos om Midros in ’n rampgebied te verander. Kyk wat het onlangs in Bronville (Welkom) ge-beur!”

Wikus Meyers, inwoner van Rivierstraat, staan nader, graaf in die hand. “Die inwoners moet ook hul kant skoonhou. Kyk hoe lyk dit hier voor my huis. My erf is netjies en skoon, maar mense kom gooi hulle tuinvullis en swartsakke net hier neer, in die sloot voor my huis!”

Volgens Sammy is die voetbruggies wat oorspronklik gebou is om inwoners bo-oor die stormwatersloot te help, vandag net nóg ’n kopseer. “Dit het ’n kuierplek vir kwajongens geword. Hulle drom hier saam, teister nabygeleë inwoners en vang verkeerde dinge aan. Ons wil graag hê die munisipaliteit moet dié muurtjies liewer verwyder, want dit het net ’n hindernis vir ons gemeenskap geword. Ek is eintlik raadop,” het Sammy gesê. “Mens weet nie meer waarheen om jou te wend vir hulp nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article