DIE eerste rugby- en netbalspanne van die Hoërskool Middelburg het onlangs na Mosselbaai getoer waar 10 meisies en 22 seuns aan die agste Arthur Johnson Sportweek, wat van 15 tot 20 Maart deur die Hoërskool Punt aangebied is, deelgeneem het.
Die eerste rugbywedstryd het Saterdag by die Van Riebeeck Stadion teen die Hoërskool Edgemead van Kaapstad plaasgevind. Alhoewel dit die eerste wedstryd van die seisoen vir Middies was en die spelers mekaar nog moes vind, het hulle ’n uitstekende wedstryd gespeel en slegs 7-9 verloor.
Op Sondag het hulle ’n jeugdiens in die skoolsaal bygewoon wat deur Manie du Toit, stigter van die Livingball Foundation, aangebied is.
Op 18 Maart het Middies ’n titaniese wedstryd teen die Hoërskool Douglas met 20-19 gewen.
Daar was geen wedstryd op die Dinsdag nie en die spanne het afrigting deur bekende voormalige rugbyspelers, asook Springbok voorry afrigter, Matt Proudfoot, geniet.
Op 20 Maart het Middies hul laaste wedstryd van die toer teen die Hoërskool Punt se B-span gespeel en 22-10 verloor nadat die telling halftyd 10 elk was.
Middies se Guhan van der Ryst en Christiaan Vorster is ingesluit in die sportweek-span wat tydens die toernooi genomineer is om in September na Italië te toer.
Die Hoërskool Middelburg se netbalspan het in hul groepwedstryde teen Curro Langebaan, HS Hoopstad, HS Labori, Langenhoven Gim A en HS Stofberg B goed gevaar en vierde geëindig.
Verdere wedstryde is ook teen Langenhoven Gim B, Kalahari A en Hugenote B gespeel waarna Middies algeheel 14de uit die 23 spanne geëindig het.
Aan die einde van die toernooi het Travel Sport ’n groep spelers vir die sportweekspan genomineer wat in September na Maleisië gaan toer. Drie van Middies se netbalspelers, Amy Newton, Inge Green en Chantey Jansen, is ingesluit by die span.
Chantey Jansen is ook aangewys as die beste senter-speler in die Cup-afdeling van die toernooi.




