Die Oud-Middies broer en suster, Alan Cumming en Marga Cumming, het Suid-Afrika in hamergooi by die Afrika-kampioenskappe in Mauritius verteenwoordig.
Alan is met sy wenafstand van 69.13m aangewys as die Afrika-kampioen. Marga het ook goed gevaar en met ’n afstand van 57.74m het sy ’n vyfde plek behaal.
Alan en Marga het reeds op skool by die Hoërskool Middelburg hul staal met hamergooi gewys. Hul ouers Donnie en Rethie Cumming is saam met die res van Middies, baie trots op hulle.
Dié Cumming-egpaar help deur al die jare om jong atlete se talent in hamergooi te ontwikkel. Middies atlete presteer jaarliks uitstekend in hamergooi, danksy die Cumming-egpaar se afrigting.
Alan wat in 2014 as hoofseun aan Hoërskool Middelburg gematrikuleer het, het in graad 9 begin deelneem aan hamergooi. In 2015 word hy gekies vir die Junior SA Atletiekspan en in 2018 haal hy die Senior SA span.
Marga neem reeds sedert graad 7 aan hamergooi deel en in haar matriekjaar, 2016, haal sy die eerste keer die Suid-Afrikaanse Atletiekspan.
Beide Cumming-sibbe het soos hul ma, onderwys as ’n beroep gekies. Marga onderrig by AJ Jacobs Primêr en is tans besig met haar honeursgraad in spesiale onderwys.
Alan het sy honeurs in besigheidsbestuur voltooi en gee onderwys by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark.



