INWONERS van Middelburg en Midros het verlede Woensdag ’n dringende vergadering bygewoon in ’n desperate poging om hul griewe te lug oor die waterkrisis wat die dorp nou al weke lank teister.
Plaaslike raadslid van Chris Hani -distriksmunisipaliteit, Robbie Venske, en Inxuba Yethemba-munisipaliteit se verteenwoordiger op CHDM, Monde Desha, het inwoners ingelig oor die jongste verwikkelinge.
Geen van CHDM se amptenare wat met water en sanitasie gemoeid is, het egter gereageer op herhaalde versoeke van Venske en Desha om die vergadering by te woon nie. Middelburg-inwoners onderteken tans ’n petisie in ’n poging om beheer van water weer terug te laat plaas in die hande van IYM. Volgens die LUR van Cogta, Fikile Xasa, sal daar wel binne die volgende twee maande ’n evalueringsvorm uitgegee word waarvolgens bepaal sal word of onder andere IYM bekwaam is om waterbeheer weer terug te neem.
Venske het die versekering gegee dat tenders reeds uitgegee is vir onderhoudswerk aan problematiese boorgate asook vir die boor van verskeie addisionele boorgate. R10 miljoen is aan Middelburg toegeken hiervoor.
Verskeie inwoners wat die huidige feesseisoen met geen water in hul krane moet oorleef nie, is nie beïndruk nie. Volgens Engela Kruger, voorsitter van die Middelburg Forum, is ’n waterimplementerings-program reeds tien jaar gelede aangevra, sowel as tydens verskeie opvolgvergaderings met CHDM. “Tot hede het ons egter niks ontvang nie, en bitter min van die voorgenome onderhoud op die waterstelsel het plaasgevind.”
Een van die hoofoorsake van die gebrek aan water in Midros en Middelburg, is vandalisme van die Matjieskloofpyplyn, wat gereeld op die meentgrond stukkend gekap word sodat die beeste kan suip.
Andrew Newton, inwoner, wou weet wat gedoen gaan word aan-gaande die groot hoeveelheid foutiewe watermeters. Op ’n ander vraag uit die gehoor of IYM werklik oor die infrastruktuur en bekwaamheid beskik om die waterbeheer van CHDM terug te neem, het Desha wel bevestigend geantwoord.
Klagte is ook aangehoor oor die CHDM-waterrekeninge wat steeds nie kiloliterverbruik spesifiseer nie, en dus nie wettige fakture is nie.
Kobus Botha, parlementslid wat die vergadering in Middelburg bygewoon het, het inwoners verseker dat water ’n reg, nie ’n voorreg, is nie. “SA is ’n uiters waterskaars land, en dit gaan fyn beplanning en groot kundigheid verg om te verseker dat die watervoorraad nie met-tertyd eenvoudig opraak nie. Ook in Cradock en Middelburg sal CHDM baie gou met ’n werkbare watervoorsieningsplan moet opkom. Inwoners sal intussen maar moet voorbereidings begin tref siende dat CHDM so stadig is om planne en begrotings bekend te maak,” het Botha gesê.

