Bestuurslede van die ATKV en Middelburg Toerisme by die nuutopgerigte ATKV advertensiebord buite Middelburg. Van links is Gerrit Coetzee, Telicia Wasserman, Jan Hoon, Gertjan Holtzhausen (ATKV streeksbestuurder), Irene van der Walt, Handri Vorster en Eliz du Toit. Foto: Elsabé Pienaar


DIE ATKV se #Weesdieverskil-veldtog het die afgelope jaar groot aanhang onder ATKV-takke en hulle gemeenskappe geniet. Nou is dié boodskap lewensgroot en duidelik sigbaar vir almal wat Middelburg binnery.

Die ATKV-tak Rhenosterberg het onlangs met behulp van die plaaslike toerismeforum drie reuse #Weesdieverskil-advertensie-borde laat maak.

Volgens Gerrit Coetzee, takvoorsitter, is een van dié borde by die noordelike-ingang van die dorp by die Steynsburgpad en langs die Cradockpad opgerig.

“Ons is opgewonde oor dié borde. Nou kry die ATKV én ons tak die nodige blootstelling wat hulle toekom,” sê Coetzee.

ATKV-tak Rhenosterberg het die afgelope tyd hulle eie #Weesdieverskil–jeugprojekte geloods om die jonges in die gemeenskap te help bemagtig.

Donald Smiles, ondervoorsitter van die tak sê, “Ons het met ons #Weesdieverskil–projekte probeer om leerders se matriekjaar vir hulle makliker te maak deur mentors aan te stel om hulle te help wanneer hulle met hulle skoolwerk vasbrand.”

“Ons het veral gefokus op die geestesge-steldheid van die leerders en hulle in kontak gebring met kundiges, soos geestesleiers, wat hulle kan aanmoedig en raad gee.”

Loopbaanvoorligtingsklasse is ook deur die tak aangebied.

“Dit is vir ons verblydend om die ATKV se harde werk op dié wyse te vertoon, waar almal wat in en verby Middelburg ry kan sien hierdie gemeenskap staan saam,” sê Smiles.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article