WIELEDAG by die Hoërskool Middelburg het presies 20 jaar gelede in 1999 ontstaan toe dit deur Susan du Toit vir die eerste keer by die skool gereël is.
Meeste oud-middies van die afgelope 20 jaar sal met smaak kan vertel oor hul wedervaringe toe hulle met alles wat ’n wiel het, om die rugbyveld kompeteer het.
Vir die laaste drie jaar het die Wieledag egter nie van die grond gekom nie, maar vanjaar is Wiele-dag met groot ywer deur die prefekte aangepak.
Leerders het in graad-verband deelgeneem, die LRR het hul eie span ingeskryf en die Gr 7’s van Karel Theron is ook na die spesiale geleentheid genooi om deel te kon hê in die pret.
Die eerste paar items waaraan die grootste aantal leerders deelgeneem het, is met fietse aangedurf. Hier is veral hul balans en konsentrasie getoets.
Tydens die kruiwastoot wat gevolg het, is spierkrag, spanwerk en uithouvermoë getoets.
Die hoogtepunt waarna almal die meeste uitgesien het was die selfgeboude kaskarre. Aanvanklik kon die LRR se kaskar weens tegniese probleme nie tydens die eerste rondtes meeding nie, die Gr 11’s moes hulp vanuit Colesberg ontbied vir herstelwerk en die Gr 12’s se kaskar het na die eerste rondte die gees gegee.
Voor die finale rondte met die kaskarre aangedurf is, moes Adrian Joubert en Guhan van der Ryst vir 400m teen mekaar om die rugbyveld op een wiel kompeteer. Alhoewel hierdie vir beide Gr 11’s ’n alledaagse manier van fietsry is, het albei net-net nié die laaste 50m voltooi nie.
Helaas het die LRR hul kaskar weer op dreef gehad nadat hul hulp van Colesberg tot hul redding gekom het.
Die finale rondte kaskar-resies om die rugbyveld was voorwaar ’n taai stryd, veral nadat die Gr 11’s se Mercedes met die LRR se kaskarwiele binne die eerste 10m geknoop het.
Geen noodlottige ongelukke is tydens die prettige twee ure aangemeld nie.
Die Gr 10’s met hul stewig geboude kaskar met sy rooi wiele is as algehele wenners van die dag aangekondig. Die LRR was in die tweede plek met die Gr 10’s derde.



