DIE Middelburg Waterkrisisfonds (MWK) wat onlangs gestig is om ernstige waterprobleme in die dorp aan te spreek, het verlede week weer twee groot projekte aangepak.
’n Groot waterlek tussen die Absa-gebou en die dorpskliniek is deur die MWK herstel omdat nie Chris Hani-distriksmunisipaliteit óf Inxuba Yethemba-munisipaliteit oor die nodige materiale of fondse beskik het om die verweerde pype te vervang nie.
’n Ernstige rioollekasie by die taxistaanplekke se openbare toilette (wat skynbaar al maande lank verwaarloos is), is uiteindelik aan die MWK gerapporteer nadat dit ’n hele blok verder in Van der Waltstraat af begin loop het. Munisipale werkers van gemeenskapsdienste het met opruiming gehelp, waarna John Powell-loodgieters met MWK-fondse herstelwerk gedoen het. By nadere ondersoek het geblyk dat vandale ook al die wasbakkrane afgesteel het, en duisende liters skoon water is só die afgelope maande in die droogtegeteisterde dorp vermors, terwyl groot dele van die dorp gereeld met droë krane sit. Ook hier het die MWK die nodige herstelwerk moontlik gemaak.
Engela Kruger, voorsitter van die Middelburg Forum wat die MWK bestuur, het Middelburgers wat reeds by die fonds aangesluit het, bedank.
“Ons doen alles in ons vermoë om ons lieflike dorp nie verder agteruit te laat gaan nie. Die plaaslike regering wend nie fondse aan om Middelburg te onderhou nie, maar elke gesin wat maandeliks R130 bydra tot die krisisfonds, maak ’n verskil in ons gemeenskap. Ons moedig inwoners aan om by die Middelburg Waterkrisisfonds aan te sluit en die MWK te bemagtig sodat ons saam kan voorkom dat die waterprobleme handuit ruk,” het Kruger gesê.
Vir meer inligting, bel Kruger by 049 8423 552 of vul die nodige Waterkrisisfondsvorms in by GDE Leather in Meintjiesstraat.


