GARTH Oosthuizen (16), ’n gr.9-leerder aan die Middellande Sekondêre Skool in Midros, is in September verkies tot Jeugambassadeur van die Chris Hani-distrik.
Nadat hy saam met sy eweknieë uit ander dele van die Oos-Kaap vir opleiding in Oos-Londen gegaan het, het hulle op 2 Oktober na Polokwane vertrek vir die Nelson Mandela-jeugparlementsitting.
Sowat 90 hoërskoolleerders vanoor Suid-Afrika neem jaarliks aan dié geleentheid deel. Garth vertel dat die eerste dag of twee aan verdere opleiding gewy is.
Leerders is touwys gemaak in die prosedures wat tydens ’n normale parlementsitting gevolg sal word, en op 5 Oktober het die amptelike jeugparlementsitting plaasgevind.
Die groot groepering is in kleiner kommissies verdeel, en verteenwoordigers van dié kommissies moes saam werk aan die 2018-verklaring van die jeugparlement. Die opstelling van dié dokument het die kommissieverteenwoordigers tot in die vroeë oggendure besig gehou.
Van die belangrike sake wat neergepen is in die 2018-verklaring deur die jeugparlement, is dat xenofobie aangespreek moet word en oplossings daarvoor gesoek moet word; immigrante se kinders vinniger Suid-Afrikaanse burgerregte moet verkry; die regering nie langer ’n blinde oog moet draai vir die haglike omstandighede by skole in landelike gebiede nie; en dat besluite óór kinders mét kinders geneem moet word.
Garth, wat ook tot kommissieverteenwoordiger verkies is, het sy hoop uitgespreek dat die Suid-Afrikaanse parlement, aan wie die verklaring voorgelê sal word, erns sal maak met die inhoud daarvan.
“Ons noem ook in die verklaring dat ons nie tevrede is met die gebrekkige aandag wat die parlement aan die 2017-verklaring geskenk het nie. Ons is immers nie by die jeugparlement om ons eie tyd te mors nie.”
As Chris Hani-jeugambassadeur beplan Garth om verskeie liefdadigheidsprojekte in 2019 van stapel te stuur, en het Mid-Karoo Express verseker dat hy sal laat weet hoe die publiek hom kan ondersteun gedurende sy termyn.



