SES rolbalspelers van Middelburg het die afgelope jaar uitstekend gevaar in verskeie kompetisies waaraan hulle deelgeneem het.
Alhoewel Middelburg se mansspelers self ook goed vaar en verseker ook groot aandeel het in verskeie groot oorwinnings vir die Middelburg-klub, verdien die dames spesiale melding vir hul besonderse prestasies.
Een van die grootste oomblikke vir Helen Louw van Middelburg was toe sy die Middellande Veterane Dames-enkelspel gewen het, asook goud in die OP-uitspele in Port Elizabeth verower het.
Sy het ook die OP tydens die Suid-Afrikaanse Veterane Interdistrikte in Maart verteenwoordig. Helen en haar spanmaat, Marieda Scherman, het die Middellande Dames-pare gewen en brons in die OP-uitspele in Graaff-Reinet verower.
Sy en haar driespelmaats, Loraine van den Berg en Barbara van Zyl, het die Middellande Dames-driespel in Cradock gewen en gaan op 17 en 18 Augustus aan die OP-uitspele in Grahamstad deelneem.
Louw, Erica Joubert, Laurraine Miller en Van den Berg het die Middellande Dames-vierspel in Somerset-Oos gewen en gaan verder in September aan die OP-uitspele in Port Elizabeth deelneem. Saam met Joubert, Miller en Van den Berg het die drie dames die kwarteindstryd bereik tydens die gesogde All Cape-toernooi wat in April plaasgevind het.
Middelburg se twee top damesrolbalspelers, Louw en Van den Berg, was vanjaar deur OP uitgenooi na die OP-meestersenkelspel waar albei brons tydens die toernooi verower het.
In Februarie het Van den Berg en Johan van Onselen die Middellande Gemengde Pare gewen en het hulle brons verower met hul deelname aan die OP-uitspele in Jeffreysbaai.
Van den Berg het die Middellande Dames-ope gewen en ook aan die OP-uitspele in Port Elizabeth deelgeneem.
By die Middellande Mans-ope het Danie Scherman gewen en het hy ook aan die OP-uitspele in Port Elizabeth deelgeneem.
Van den Berg het verder ook die Oostelike Provinsie tydens die Suid-Afrikaanse Ope Interdistrikte in Maart in Johannesburg verteenwoordig, waar die OP-span brons medaljes verdien het.
As daar dus na vanjaar se rolbal-statistieke gekyk word, is dit duidelik dat Middelburg-klub se dames hoë hoogtes met hul prestasies bereik het en word daar reeds uitgesien na die volgende kompetisies en uitslae in Augustus en September.



