AS jy oud word en jy besef jou tyd op hierdie ou aarde word min, dan hunker jy terug na jou kleintyd, na jou grootwordjare, na jou grootwordplek.

Jy besef jou lewe is amper verby en die geluk het jou meestal vermy, maar dan onthou jy jou kinderjare. Die gelukkige sorgvrye jare van speel en lag en… gelukkig wees. Dan gaan soek jy dit, jy loop terug op jou spore tot jy daar kom.

Dit het my aan die begin van die jaar teruggebring na my grootword-dorp, my Middelburg in die Karoo. Middelburg omring deur sy bergeprag. Bonkige Renosterberg, Hangklip, Brulberg, Tafelberg, Joubertsberge, Lootsberge, Neusberg en skugter Kompasberg wat sy naald net sekere plekke wys. Ek het kom aftree in my Art Deco-huis met sy groot tuin en groot bome.

Met duiwe wat koer, vinke wat parmantig takke skoonstroop om nes te bou, tiptolle wat jubel, luisters wat fluister in die skemer, hoep-hoepe met hul roepe, kwikkies wat kwik, jan-fiskaal en jan-frederik. Maar ek het nie geweet van die seringe.

Ná ’n aandkuier by ’n vriendin sien sy my af by my voertuig en toe meteens is ons omring met die geur van jasmyn.

“Het jy ’n yesterday-tomorrow wat blom?” vra ek. “Nee,” sê sy, “dis die seringbome, elke jaar in Oktober vul hul ons dorp met hierdie lieflike, soet, jasmyn-geur.”

Die volgende oggend is ek vroeg op en gaan soek hulle. Ek kry hulle met hul vaal blomme, amper wit amper blou, waar hul strate plek-plek omsoom, in parkeerareas voor besighede, in privaat tuine, kordaat op straathoeke en op sypaadjies. Omgewe met hul jasmyngeur, betowerend soos die parfuum van ’n mooi vrou!

As jy saans skemertyd, as dit stil word en die lig is sag, in jou tuin wandel, deur die strate drentel of op jou stoep sit, dan dra die ligte aandwindjie die swaar, soet geur van jasmyn en vul jou tuin, die strate en jou stoep daarmee. Jou hart word gevul met blydskap, want jy weet dit is Oktobermaand in die hart van die Karoo, in Middelburg.

Die oumense is dankbaar dat hulle dit nog ’n jaar kan beleef, die jongmense herken die geur van die liefde wat hul harte volmaak en die kinders se lag is helderder want hul voel geborge.

In Oktober blom Pretoria se jakarandabome en Nieu-Bethesda se peerbome, dit weet almal in die Oos-Kaap, maar die bes bewaarde geheim is Middelburg se seringbome.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article