Die plaas Buffelspoort was vanjaar die algehele wenner op die Middelburg Jongooiklub se klasdag. Tinus du Plessis (met die trofee) het sy dank uitgespreek teenoor sy getroue plaaspersoneel, en gesê dat die sukses aan hulle toewyding te danke is. Hulle is van links agter: Booi Booysen, Johnathan Fortuin, Tinus du Plessis, en Charlie Mbi. Voor is Amos Mdedle, Tromp Fortuin en Shorty Mbi. Foto:ELSABÉ PIENAAR


MIDDELBURG se Jongooiklub het verlede week hul finale klasdag vir die jaar gehou en 12 boere van die omgewing het deelgeneem.

Uit dié 12 is 11 lede en een ’n gasteler. Lede skryf jaarliks elk ses jongooie in wat dan vir agt maande op een van die lede se plase versorg word.

Die jongooie word aan die begin en die einde van die agt maande geweeg en geskeer.

Gewapen met die finale uitslae van die toetsperiode kan ’n boer dan ingeligte besluite oor sy kudde se genetika neem en sodoende sy kudde se vleis- en wolopbrengs stelselmatig verbeter.

Die jongooie is beoordeel op grond van hoogste prys vir vleis, hoogste prys vir wol en die hand en oog-kategorie (fisiese beoordeling).

Die algehele wenners (beste groep) van die dag word bepaal deur ’n gemiddeld van elke boer se uitslae van sy vyf beste jongooie te neem.

Volgens Willie van Heerden, lektor aan die Grootfontein Landboukollege, bied die Jongooiklub die geleentheid aan studente van die Grootfontein Merino Produksie-eenheid om die hele proses van prestasietoetsing oor ’n bepaalde tydperiode eerstehands te ervaar.

“Die klasdag self is ook ’n gulde ge-leentheid vir studente om skouers te skuur met boere van die omgewing, om gedagtes te kan uitruil en raad te vra by landbouers wat reeds in die wol- en vleisbedryf betrokke is,” het Van Heerden gesê.

“Afgesien van die kennis wat oor ’n boer se kudde ingewin word deur die prestasietoetsing, is die klasdag van groot waarde vir ons boeregemeenskap. Die droogte raak ons almal, en die samesyn op so ’n dag is van onskatbare waarde vir ons as boere.

“Ons borge vorm ook ’n integrale deel van die dag, en ondersteun die Middelburg Jongooiklub deur die loop van die toetsperiode met waardevolle advies wat kuddegehalte kan verbeter,” sê Tinus du Plessis van die plaas Buffels-poort, waar vanjaar se jongooi klasdag gehou is.

Die uitslae van 2019 se Middelburg-jongooiklub was as volg:

Hoogste prys vir vleis:

1. David Victor – Kleinbegin

2. Ahee Coetzee – Greystone

3. Boeta Vorster – Nooitgedacht

Hoogste prys vir wol:

1. Michael Hayward – Wildewater

2. Tinus du Plessis – Buffelspoort

3. Wessel Bibbey – Moordenaars-poort

Hand en Oog (mees gebalanseerde ooi):

1. Boeta Vorster – Nooitgedacht

2. Andries Pienaar- Dieprivier

3. Grootfontein Studente-stoet

Algehele beste groep:

1. Tinus du Plessis – Buffelspoort

2. Wessel Bibbey – Moordenaars-poort

3. Boeta Vorster – Nooitgedacht

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article