Dié museum onder andere die William Roe fotografiese versameling. Foto: ELSABÉ PIENAAR


DIE Ou Residensie in Graaff-Reinet is in 1962 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid ver-klaar en in 1979 het dit deel geword van die Graaff-Reinet Museumkompleks. 

Die Mid-Karoo Express het by dié huismuseum by Pastoriestraat 1, wat volgens argiewe in 1801 deur die eerste eienaar William Janssens bekom is, gaan inloer.

Jakobus Gerber het dié erf, waarop daar intussen ’n huis gebou is, in 1831 verkoop aan William Thomas Brown vir 24 000 Gulden.

Die huis is in die H-vormige Kaaps- Hollandse boustyl opgerig. Dit is een van slegs drie oorblywende huise in dié styl in Graaff-Reinet.

Laterjare het Brown ’n deel van die huis aan die Rabone-familie verhuur wat die armoede en onhigiëniese leeftoestande in Engeland vir Graaff-Reinet verruil het. Dit was nadat Harriet Rabone se broer, Alfred Essex, aan haar geskryf het oor die dorp se skoon water, lug en pragtige lemoenbome.

Die destydse Graaff-Reinet Herald het sy ontstaan aan Alfred Essex te danke.

Die Rabones het ’n nederige bestaan op Graaff-Reinet gevoer en in die begindae op die soldervloer geslaap omdat hul matras tydens die seereis na Suid-Afrika verlore geraak het.

Nietemin het Harriet, ’n ywerige brief-skrywer, aan haar Londense vriendin, Agnes Hunter, in 1852 geskryf dat sy ’n pragtige uitsig oor vrugteboorde vanuit die soldervenster geniet.

Gedurende die Rabones se verblyf in die Ou Residensie is daar gereeld saans musiek gemaak en Alfred en sy vennoot Harry Bolus het dikwels ook aan dié musiekaande deelgeneem.

Vandag bied die musiekkamer in die museum ’n unieke kykie op instrumente wat eie aan die periode was soos die konsertina, fluit en huisorrel wat ook in dié statige woning bespeel is.

Nadat die erf in 1855 onderverdeel is, be-kom Charles Rubidge albei eiendomme (die deel met die huis in 1859).

Rubidge en sy vrou, Louisa, het ’n voor-uitstrewende boerdery met sybokke en lemoene op drie plase in die omgewing bedryf, onder meer op die plaas Platrug (vandag Wellwood).

Die Ou Residensie is in 1916 deur die regering aangekoop, en tot in 1978 as magistraatswoning gebruik.  

Vandag huisves dié museum onder meer die William Roe fotografiese versameling, wat besoekers baie kan vertel oor die vroeër dae van Graaff-Reinet. Geweergeesdriftiges sal die 83 vuurwapens soos voorlaaiers, die witbek Sanna en ’n Martini Henry 12-boor olifantjaggeweer in die Jan Felix Lategan geweerversameling geniet.

Kontak die Graaff-Reinet museumkompleks vir meer ingligting by 049 892 3801.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article