‘N JONG onderwyseres van die Michausdal Laerskool het haar prysgeld wat sy in ’n skoonhheidskompetisie gewen het, gebruik om bejaardes uit die gemeenskap te trakteer.
Asiwe Ndawuni (23) wat sosiale wetenskappe, natuurwetekenskappe en lewensvaardighede vir graad 4- en 5-leerders aanbied, het verlede jaar aan The Face of Miss Signature 2019/20 deelgeneem.
Sy vertel dat die kompetisie ’n week lank in Johannesburg geduur het. “In die begin was daar letterlik duisende inskrywings waaruit die top honderd meisies en daarna die top 40 gekies is. Daarna is die top 10 deur die finaliste self aangewys,” sê Asiwe, een van dié top 10 modelle.
“Ons het verskillende werkswinkels oor onderwerpe soos grimering bygewoon en moes ons klere en grimering van ons borge modelleer.”
As een van die tien finaliste moes Asiwe ’n projek kies om te ondersteun en sy het bejaardes in die gemeenskap gekies. Die prysgeld wat sy gekry het, het sy spandeer op ’n ete vir lede van die Sonskyn-klub in Michausdal waar sy ook die teenwoordiges ietsie oor grimering geleer het.
“Ná die ete het ons speleties gespeel, pret gehad en gedans.”
In haar toespraak het sy ’n beroep op mense gedoen “om nie ongeduldig met ou mense te wees nie, maar om hulle met waardigheid te behandel.”
Asiwe is ook deel van ’n groep wat aan ’n ster-status televisieproduksie werk. Sy moet op 28 Februarie na Pretoria gaan vir die bywoning van ’n werkswinkel wat deel vorm van ’n televisieproduksie wat opge-neem en later gebeeldsaai gaan word.
Asiwe het by haar oom en tannie grootgeword na haar ma oorlede is toe sy nog baie jonk was.
“Ek waardeer hulle ondersteuning geweldig baie,” sê Asiwe.




