ROELF Opperman van die plaas Amajuba, en twee vriende, Gerhard Ferreira en Wayne Dicks van Bloemfontein, het die afgelope Sondag- oggend ’n skouspel in die hemelruim bokant Hofmeyr gesien wat min mense ooit die geleentheid sal hê om te beleef.

Hulle was om 04:45 in die veld nadat hulle die vorige middag Rooikatspore opgemerk het en besluit het om voor 04:00 uit te gaan om te kyk of daar nie skade by die lammers is nie.

’n Helder blou lig het skielik die hemelruim opgehelder, en die hele wêreld was in blou gehul. Dít terwyl dit kort tevore nog stikdonkernag was. Die oorsprong van die blou ontploffing was duidelik sigbaar in die suidoostelike hemelruim.

Volgens Opperman het dit terselfdertyd gelyk asof duisende brandende liggies na die aarde tuimel, maar dit was nie ’n verskietende ster soos ons almal ken as die wit pyl wat deur die lug klief en dan al smaller raak na onder nie.

“Hierdie was ’n absoluut oorweldigende ervaring en ons was bevrees dat een van die brandende stukke dalk naby ons sou land,” het Opperman gesê.

Daarna het daar in die hemelruim slegs ’n helder oranje bal oorgebly. Dit het mettertyd uitgebrand.

Opperman het daarna navrae gerig aan die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium, in Sutherland, om te probeer vasstel wat presies gebeur het.

Prof Tim Cooper het onmiddellik reageer en vanaf die Observatorium ’n foto aan Opperman gestuur van die hemelruim op die presiese tyd van die gebeurtenis, bo-kant die GPS-pin waar die mans hulle bevind het..

Nadat Opperman die posisie van die “ontploffing” uitgewys het, kon Cooper bepaal dat op daardie presiese tyd, ’n meteoor sowat 50km bokant die aardoppervlak ontbrand en geval het, presies bokant die plek waar die drie mans was.

Dit het gelukkig uitgebrand voordat dit die aardoppervlak bereik het.

Die meteoor was die grootte van ’n normale baksteen, maar die ontbranding van hierdie soliede klip het die helder blou lig veroorsaak, en dit het na die aarde geval teen ’n spoed van ongeveer 20km tot 30km per sekonde.

Omdat dit 50km bokant die aardoppervlak was, was daar geen klank hoorbaar nie.

As gevolg van die feit dat daar geen “stert” of beweging in enige rigting opgemerk is nie, kon bepaal word dat die meteoor loodreg neergedaal het en dit het ook die verblindende blou lig veroorsaak.

Die oranje bal was die oorskot van die kern van die klip wat mettertyd homself uitgebrand het in die buitenste ruim.

’n Meteoriet is wanneer só ’n meteoor op die aardoppervlak land.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article