WÊRELDWYE navorsing het in die afgelope maande nuwe lig gewerp op die voordele van Merinowol.
Nie net bring dié natuurlike vesel nuwe hoop vir ekseemlyers nie – studies toon ook dat Merino-wol vele omgewingsvriendelike gebruike kan hê:
Sag op die vel
Sowat 20%–30% van kinders wêreldwyd is ekseemlyers, en dié syfer is aan die groei. Tradisioneel is geglo dat wol ’n allergeen is, en dat ekseemlyers dié veseltipe moet vermy, maar ’n internasionale groep medici het nou ’n verslag gepubliseer wat dié mite die nek inslaan.
Nadat 100 jaar se navorsing oor wol as “allergeen” in heroënskou geneem is, is dit bevind dat ’n hoë veseldeursnee wol wel irriterend op die vel kan maak, maar nie wol as veseltipe self nie.
’n Verdere studie deur die Murdoch Kindernavorsingsinstituut in Melbourne, Australië, het bevind dat superfyn Merinowol ’n hoogs aanbe-vole kledingvesel vir kind-ers met atopiese dermatitis is. Die studie, wat in die Britse Joernaal van Dermatologie gepubliseer is, het bevind dat superfyn Merinowol selfs meer voordele as katoen inhou vir die verbetering van ekseemsimptome.
Sag op die omgewing
Ook in die tekstielvervaardigingsektor maak die voordele van wol opslae. Dit verg 6 kg olie ten einde een kilogram Nylon te vervaardig.
Een kilogram Akrielstof verg 5kg olie, en 1kg Poliëstervervaar-diging verbruik sowat 3kg olie, maar om 1kg wol as eindproduk te lewer, verg ’n skamele 0.25kg olie.
Navorsing kom nou ook na vore met innoverende gebruike vir selfs growwer wol, wat nie gewoonlik in die tekstielbedryf gebruik sou word nie. So byvoorbeeld kan wol, met sy hoë koolstofinhoud, in baie gevalle gebruik word om plastiek te vervang, terwyl dit ook komposteer sonder skade aan die omgewing.
Van die 12.5 miljoen ton plastiek wat jaarliks in die oseane gestort word, is sowat 3.2 ton mikroplastiek wat minder as 5mm breed is en opeindig in die marine-, en uit-eindelik, menslike voedselketting. 20% van hierdie mikroplas-tiek is tekstielvesel, en indien dit met meer bioafbreekbare wol vervang kan word, sal dit groot voordele vir die mens en dier inhou.
Studies deur die Nieu-Seeland Merino Maatskappy het bevind dat Merinowol ondergronds binne sowat nege maande totaal afbreek, terwyl sintetiese eweknieë geen afbreking ondergaan het nie. Terselfdertyd het die landbounavorsingsorganisasie AgResearch bevind dat sowat 30% van wolvesels binne 90 afbreek in soutwatertoestande, terwyl poliëstervesels onveranderd bly in dieselfde periode.
Wol se vele goeie eienskappe soos brandtraagheid, wasbaarheid, goeie isolering en reukloosheid, is lank reeds bekend.
“Nou kan daar nou nog twee voordele bygevoeg word,” het Stewart Collie, wetenskaplike verbonde aan AgResearch, in April tydens die Grow 2019 Agri Summit in Christchurch, Nieu-Zeeland gesê. “Dit sal jou gesonder maak, en ook vir die jare wat kom nie ‘n las op die omgewing plaas nie.”
- Dank aan Juan Venter van die Nasionale Wolkwekersvereniging se Oos-Kaap kantore by die Grootfontein Landboukollege vir sy hulp met die samestelling van die artikel.




