Megan Hendricks moes naderhand die moeë babahondjie maar liewer abba, want sy mamma is geopereer en sy het ’n tydjie gevat om wakker te word tydens die massa sterilisasie poging op Hofmeyr. Foto: THEA DORLING

Credit: SYSTEM

NÓG ’n sukesvolle massa sterilisasie-veldtog, georganiseer deur Linda Opperman, het onlangs op Hofmeyr plaasgevind.

Die skoukomitee het die skousaal beskikbaar gestel waar vyf veeartse vanuit omliggende dorpe vir twee dae gewerk het.

Gertruida Mentz het die leiding geneem, met Zandri Snyman, Sjamoné van Zyl, Ashleigh Glover en Minnaar Lyell.

Tegnici en assistente wat gehelp het was Linda Opperman, Tleane Mzu, Willie en Thea Dorfling, Megan Hendricks, Nadia Bosch, Ters Ferreira, Ray Walker en hul helpers.

Honde-eienaars vanuit Twinsville, Eluxolweni, Hofmeyrdorp en selfs Cradock het hul troeteldiere gebring.

Altesame 69 diere is gesteriliseer, waarvan 29 reuns en 40 tewe was. Omtrent 170 diere in totaal het die veldkliniek besoek, en dit sluit ook diere in wat ingeënt, ont-wurm en vir bosluise en vlooie behandel is.

Ongelukkig kon katgriepinspuitings nie gratis gegee word nie, want dit is nie deel van die medikasie waartoe die Staats- veeartse toegang het nie. ’n Geringe fooi van R50 per inspuiting is hiervoor gehef.

Sommige honde het angsbevange en verskrik in voertuie opgedaag, maar die be-kwame hondehanteerders het dadelik na-dergestaan.

Ters Ferreira van die Karoobos Lodge verdien ’n goue medalje, want blaffende, bytende en keffende honde is dadelik tot bedaring gebring en aan ’n leiband na die lokaal geneem.

Agter die tafel by die ingang het ’n span helpers die honde genommer, en sommige diere het sommer net daar op die daad ’n naam gekry.

’n Teefhond het selfs met haar babahondjie opgedaag vir die groot operasie. Assistente vanuit die gemeenskap het die babahondjie versorg terwyl die mamma geopereer is.

Die veldtog was ’n spanpoging van die hele Hofmeyrgemeenskap. Die Karoobos Lodge het verblyf verskaf aan die veeartse en etes is geborg deur Pondokkie Gastehuis van Joey en Leon Els, Hugs of Hope, Dadda de Jager en Vivienne Labuscagne.

Anne Nel, Avice Steenkamp, Thea Dorfling en Linda Opperman het gesorg vir versnaperings terwyl daar gewerk is.

Loerien Jordaan van OVK het die sagte tou geborg asook koeldrank.

Victory Motors en Mid-Karoo Express het onderskeidelik koerante en ongedrukte koerantpapier verskaf.

Tafels is geborg deur Janique Fourie, en André en Mariaan Schoeman asook die skool en kerk het gesorg vir stoele.

Braam About het stene beskikbaar gestel waarop die tafels kon staan. Johan du Plessis se waterkar het gesorg dat water op die terrein beskikbaar was.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article