IS biblioteke aan die uitsterf en lees vandag se kinders nog?
Om weer lees by kinders aan te moe-dig het Carin Greyling, Afrikaansonderwyseres by Marlow, besluit om die Marlow-biblioteek op te knap sodat die seuns weer lus kry om te lees.
Met behulp van Dalina Smith, een van Marlow se ouers, het die twee vroue die vaal biblioteek in ’n lushof omskep. Tydens die Desembervakansie is al die boeke afgepak en het die biblioteek ’n nuwe laag verf gekry.
Stoffel Duvenage van Duvenage-kabinetmakers en self ’n oud-onderwyser van Marlow, het die biblioteek-tafeltjies gratis herstel en afgeskuur sodat dit splinternuut vertoon.
Twee ou gemakstoele is gekoop en netjies oorgetrek vir ’n lekker leeshoekie in die biblioteek.
Dalina het uit ou elektriese tolle ’n muurhorlosie sowel as tafeltjie gemaak. Inspirerende spreuke is teen die mure aangebring.
Nog ’n ouer, Yolande Froehlich, het mooi kussings en blindings gemaak wat die interieur mooi afrond.
Marlow se skoolhoof, Pieter Steyn, het ’n hele klomp van sy ou boeke aan die biblioteek geskenk wat beslis in die seuns se smaak sal val en hulle dalk aan die lees sal kry.
Die seuns kan ook ’n lekker potjie skaak speel en Greyling beplan om nog bordspeletjies aan te koop.
Die nuutste landboutydskrifte en plaaslike koerante word ook weekliks in die biblioteek geplaas.
Die projek is onder die vaandel van die ATKV Damestak asook Marlow se ATKV Jeugtak aangepak.
Die ATKV Hooftak het dan ook beloof om ’n klompie boeke aan die biblioteek te skenk en dit sal eersdaags arriveer.
Die skool bedank almal wat op een of ander wys betrokke was by hierdie opknap-projek van die biblioteek.
Die hoop word uitgespreek dat daar vanjaar sommer ’n hele klomp nuwe boekwurms op Marlow gaan wees.




