DIE eerste krieketspan van die Hoër Landbouskool Marlow in Cradock het die naweek van 15 tot 17 Februarie aan die nasionale Coca-Cola pro20-toernooi vir hoërskole se OP streeks-eindrondte deelgeneem.

Daar was tydens die kwarteindrondte agt hoërskole wat teen mekaar deelgeneem het, naamlik, Grey teen Die Brandwag, Nico Malan teen Union High, SAC teen Bethelsdorp en Marlow teen Loyiso.

Grey, Nico Malan en SAC het met hul opponente afgereken en na die semifinale gevorder.

Marlow het die loot teen Loyiso gewen en besluit om eerste veldwerk te doen.

Loyiso was vroeg in die knyp, maar het ná twee verbroude vangkanse die geleentheid benut en stel ’n baie kompeterende totaal van 114 lopies daar.

Ná ’n blaaskans kolf die Ramme, maar kry teenspoed en was 49/4 nadat goeie boulwerk die druk op Marlow geplaas het.

Leyton Valentine (Paps) het egter verbete teruggeveg met 60 (nie uit nie) lopies en saam met Tiaan Herion (Dassie) die wa deur die drif getrek en Marlow met vyf paaltjies laat wen.

Sondag 17 Februarie het Grey teen Nico Malan gespeel en Grey het gemaklik met sewe paaltjies gewen.

Marlow het daarna teen SAC te staan gekom. Marlow het die loot gewen en besluit om eerste te kolf.

Die St. Andrew’s boulers was net te goed vir die Ramme en hulle is uitgeboender vir 56 lopies. Slegs Syce Botha het weerstand gebied met 27 lopies.

SAC het gemaklik die gestelde teiken afgekolf met twee paaltjies plat om die wedstryd met agt paaltjies te wen.

SAC het in die finaal teen Grey gemaklik met vier paaltjies gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article