DIE Hoër Landbouskool Marlow het op 13 April met nege rugbyspanne teen die Brandwag Hoërskool kragte gemeet.
Die wedstryde het by Marlow plaasgevind en was die Wolramme se eerste tuiswedstryde van die seisoen. Albei skole het klipharde rugby gespeel.
Brandwag se eerste span klop Marlow in die hoofwedstryd 18-17. Die spanne het met fisieke hardlooprugby mekaar aangevat. Die kompetisie in die vaste fasette was baie goed tussen die twee spanne en die verdediging van Brandwag en Marlow was genadeloos.
Dit het gesorg dat daar min spasie was om aan te val en af te rond. By die afbreekpunte het albei spanne mekaar ook behoorlik aangevat. Marlow het drie drieë gedruk en met een doelskop geslaag.
Marlow se drieë is deur Leon Cordier, Troy Delport en Hlomla Mabaza gedruk. Troy slaag ook met een doelskop.
Die ander spanne se wedstryde was ook goeie kragmetings.
Die uitslae is as volg, met Marlow se tellings eerste:
2de spanne 17–14
3de spanne 40–17
o.16A-spanne 18–28
o.16B-spanne 19–5
o.15A-spanne 5–31
o.15B-spanne 14–5
o.14A-spanne 15–12
o.14B-spanne 17–22
Marlow het ook vir hulle drie junior spanne op 10 April wedstryde teen Michausdal se A-spanne gereël.
Dit was die eerste keer vanjaar wat die C-spanne ook ’n kans gekry het om te speel. Al drie spanne van Marlow het goeie rekenskap van hulself gegee.
Die tellings was as volg:
Marlow o.16C 19–33 Michausdal o.16A
Marlow o.15C 10–17 Michausdal o.15A
Marlow o.14C 26–40 Michausdal o.14A


