Thembsie Solo van die museum personeel by die uitstalling.Foto:WILNA DE KLERK


’n INSIGGEWENDE uitstalling oor die lewe van oud-president Nelson Mandela is op die oomblik in die Groot Visrivier-museum op Cradock te sien.

Die foto’s, geskiedenis en lewenslesse van Madiba is op bruikleen en sal slegs vir ’n paar maande op Cradock uitgestal word.

Grepe uit Mandela se lewe wys hom as ’n jong seun, bokser, prokureur en politikus. Daar is ook ’n groepfoto van die beskuldigdes in die verraadverhoor wat in Desember 1956 geneem is. ’n Interessante afdeling van die uitstalling word gewy aan briefies van bewondering wat Mandela van kinders uit Florida, Nieu-Seeland, Engeland, Amerika en vele ander lande en kontinente ontvang het.

’n Bekende uitspraak wat Mandela oor en oor herhaal het, is ook by die uitstalling te sien: “Ek baklei nie vir wit of swart dominansie nie, maar wel dat alle Suid-Afrikaners met gelyke geleenthede saam sal kan leef. Dit is iets wat ek graag sal wil bereik en as dit wel nodig is, sal ek daarvoor sterf.”

Besoekers en skoolgroepe word hartlik uitgenooi om die uitstalling in die museum te kom besigtig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article