’n MAN van Pretoria wat op ’n fietstoer van 2 700km deur die land is ten bate van die Voortrekkers sal môre in Middelburg intrap.
Jakkie van der Colff (77) het op Saterdag, 17 Augustus, manalleen vanaf die Voortrekkermonument op sy fiets vertrek en gaan deur vyf provinsies trap en 50 dorpe besoek voordat hy gaan “afsaal” by die Taalmonument in die Paarl.
Dr. Danie Langer, hoofleier van Die Voortrekkers sê, “So iets het nog nooit in die geskiedenis van Die Voortrekkers gebeur nie.”
Hy pak die pad aan sonder enige begeleiding of ondersteuning. Sy doel is om die Voortrekkers as beweging wyer en beter bekend te stel. Dit is sy hartsbegeerte dat Voortrekkerkommando’s in al die dorpe gestig word waardeur hy met sy fiets gaan ry. Hy samel ook geld in deur borge wat hom per kilometer borg, sodat die wat nie kan bekostig om ’n Voortrekker te wees nie, tog kan aansluit en ook dat die beweging meer gemeenskapsprojekte kan aanpak.
Van der Colff se motivering is eenvouding. “Elke mens ongeag wie jy is het een van drie dinge: tyd, talent of bates. In my geval het ek tyd op hande. Om my tyd nie nutteloos te laat verbygaan nie, het ek besluit om iets te doen vir Die Voortrekkers.”
Na sy mening moet ’n mens se liggaam gesond wees om ’n gesonde gees te kan huisves en nie andersom soos die gesegde lui nie.
Langner sê, “Ek moet bieg. Ek was eers verstom, toe skepties, ongelowig en toe realisties. Dit terwyl oom Jakkie gelowig, optimisties en met vertroue die roete myl vir myl beplan het.”
Volgens Van der Colff se roetebeplanning sal hy môre vanaf Colesberg in Middelburg aankom. Hy vertrek Saterdag, 31 Augustus na Graaff Reinet en pak Maandag, 2 September die pad aan na Somerset-Oos.
Daarna sal hy na Paterson vertrek en in Despatch en die Baai aandoen.
Die toer sal op 21 September, ná sowat 2 610km, tot ’n einde kom by die Taalmonument in die Paarl.
“Dis net die vryheid en die ooptes van die veld wat jy ervaar. Jy dink eintlik aan niks nie. Dit word net lekkerder en lekkerder en jy word sterk,” sê Van der Colff.




