Karin Michau van Die Hebron Kwekery by Die Shed-restaurant op Cradock. Foto:WILNA DE KLERK


‘n NUWE modegier in huisversiering, lugplante, is nou baie gewild, juis omdat dié plante so min sorg nodig het.

Lede van VLV-Cradock het verlede week ’n demonstrasie oor lugplante bygewoon en volgens Karin Michau van Hebron Kwekery by die Shed restaurant op Cradock, is lugplante van die Tillandsia familie en stam hulle van die alombekende Brumelia-reeks af.

Tilllandsias word lugplante genoem omdat hulle geen grond nodig het om in te groei nie. Hulle het oor die algemeen ook nie wortels nie, maar die enkeles wat wel wortels het, gebruik dit om aan oppervlaktes soos boomstamme, klippe of soortgelyke plekke in die natuur vas te klou.

“Tillandsias is nou hoog mode en is so maklik om te versorg dat dit baie gewild is by huisver-sierders,” sê Karin.

“Lugplante floreer binneshuis sowel as buite in die tuin, veral in bome. Dit hou egter nie van warm son of baie koue nie en kan glad nie in ryp oorleef nie.

Karin het ’n pragtige rangskikking van lugplante gemaak deur twaalf verskillende soorte in ’n ploegskaar op mos en klippies te rangskik.

“Dit vertoon ook mooi wanneer die plantjies in ’n glaskoepel gerangskik word. Die enigste vereiste is dat die koepel bo of aan enige sykant, oop moet wees want lugplante bonodig lug,” sê Karin.

Lugplante kan een keer per week, of een keer elke twee weke in die winter, vir sowat ’n uur onder die water met ’n bietjie Seagrow in, ge-dompel word.

Daarna moet hulle baie goed afgeskud en met sorg gedra word dat daar nie water in die plant se kroontjie agterbly nie.

Lugplante is nie oral beskikbaar nie, maar Die Hebron Kwekery by Die Shed op Cradock het ’n goeie voorraad. Lugplante kan maklik verpak en vervoer word.

  • Vir meer inligting, kontak Die Hebron Kwekery by Die Shed op 083 226 5525.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article