AS diereliefhebber was dit vir Linda Opperman ondraaglik om die lyding van honde van alle soorte in en om Hofmeyr te sien.
Sy het nie teruggesit en laat begaan nie. Nee, sy het ingespring. In samewerking met Janique Fourie het hul onlangs ’n reuse sterilisasieveldtog van stapel gestuur wat ’n groot sukses was. Nou pak sy die volgende reddingspoging aan.
Talle honde wat die dag by die sterilisasieveldtog opgedaag het, het nare wonde aan die nek gehad waar die rooi baaltou waarmee hul vasgemaak was, hul deurgeskaaf het. Sy het ’n ontwerp van ’n veilige hondebandjie geskets en persone gevra om haar te help marknavorsing doen by winkels.
Sy kan nou veilige honde-halsbande bekom teen ’n baie billike tarief. Sy wil ook ’n versoek tot die publiek rig vir skenkings van bande wat in onbruik lê.
“Ons sal graag voor Kersfees vir elke hond ’n halsbandjie wil aanskaf om beserings te voorkom,” het sy gesê.
Sy het ook by Twinsville Primêr, waar sy skoolhou, begin om die kinders te leer hoe hulle na hul diere moet omsien. In samewerking met Janique Fourie, wat die hondekos borg, leer en wys sy self, tydens pousetyd, vir die kinders hoe om na honger diere om te sien.
Ongelukkig het dit al in die verlede gebeur dat honde en klein hondjies bloot by haar huis afgelaai word, en die eienaars verdwyn.
“Hierdie is totaal onaanvaarbare gedrag, en ek is ook nie ingerig om as dierewelsynsorganisasie op te tree in die dorp nie,” het sy gesê.
Veral nou oor die Kersseisoen versoek sy diere-eienaars om toe te sien dat hul diere gevoed en versorgd is as hul met vakansie gaan, en as daar babahondjies is, of op pad is, moet daar vroegtydig huise vir die hondjies gesoek word en voorsorg getref word dat dierekinders veilig tuisbly.




