’n Gemeentelid van ’n kerk op Fort Beaufort is oorlede na ’n fratsongeluk binne die kerkgebou.
Volgens Edson Meyer, ook ’n gemeentelid van Newton Phillipton Union Congregational Church, was hy en sy vrou saam met die oorledene, Elna Andries (57), in die kerk op Vrydag, 15 Julie, om te help om stukkende ruite van die kerkgebou te vervang. Die meeste van die ruite is tydens die verwoestende haelstorm van Desember verlede jaar beskadig.
“Elna het die gebreekte glasskerwe in ’n emmer langs ’n stel trappe neergesit. Toe sy later die trappe afstap, het van die glasskerwe haar onder aan haar linkerbeen gesny,” sê Meyer.
Hy het ’n toerniket om Elna se been vasgemaak om die bloeding te stop en na die hospitaal gejaag nadat sy reeds binne die kerk haar bewussyn verloor het. “Op pad na die hospitaal moes ons noodgedwonge by die padwerke se stop/ry-punt by Fort Beaufort se brug en hoofstraat stop,” sê Meyer.
Met hul aankoms by die hospitaal was Elna bewusteloos en is daar vir bykans 30 minute tevergeefs probeer om haar weer by te bring. Die glasskerf het vermoedelik ’n hoofslagaar aan haar been gesny en sy is om 19:40 by die hospitaal dood verklaar.
“Sy was altyd gewillig om vir haar kerk en medemens van diens te wees,” sê Meyer.
Elna het in die gemeenskap as Miekie bekendgestaan en was ook ’n talentvolle haarversorger. Sy het vroeër ook by die kioskafdeling van die plaaslike Superspar diens gedoen.
Elna Andries se begrafnis word Saterdag, 12:00 in haar geliefde kerk gehou. ’n Troosdiens vind om 11:00 by haar familiewoning plaas.




