Die leerders van die Hoërskool Newtown op Fort Beaufort lees elke week lekker aan hul Mid-Karoo Express. foto: NOLAN VENTER

VIR ’n skool op Fort Beaufort kan ’n Donderdag nie gou genoeg aanbreek nie, want dan sit al wat leerder is af na die naaste verspreidingspunt om hul geliefde gratis koerant te kry.

By die Hoërskool Newtown is Mid-Karoo Express al sedert verlede jaar ’n weeklikse instelling. Elke Vrydag word begin met hierdie koerant wat van voor tot agter deur veral die skool se matrikulante gelees word.

Luidens dié skool se leerlinge is ’n pluspunt vir hulle die feit dat die koerant gratis is en dat hulle baie daaruit leer.

“Deel van ons leerplan is om advertensies te ontwerp en berigte te skryf. Op hierdie gebied help die koerant ons verskriklik baie,” het Ronaldo Fourie (19) aan Mid-Karoo Express gesê.

Vir die sportmal Shaquille Hofsta (18) bly die sportfoto’s en verslae vir hom die lekkerste. Die 17-jarige Ronelle Rensburg geniet dit veral om die stories oor haar omgewing te lees. Vir Mid-Karoo Express se korrespondent was dit verblydend om te sien dat van die leerlinge selfs hul skryfboeke met hul geliefde koerant oortrek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article