DIE gr. 7-leerders van die Laerskool Cradock, wat nie ’n skooltoer na Kaapstad meegemaak het nie, is aan ’n verskeidenheid ander aktiwiteite gedu-rende die week blootgestel.
Donderdag, 7 Februarie was ’n dag wat hierdie leerders nie gou sal vergeet nie. Hulle is reeds vroeg deur Kobus Kersop met ’n bus kom haal en by Cradock Spa afgelaai. Nadat elke groepie hul piekniekplekkie ingerig het, was daar aan die meisies gedemonstreer hoe om pannekoek te bak. Groot was die opgewondenheid toe die leerders besef het dat hulle self hul eie pannekoeke sal moet bak en dit daarna kon eet! Nie lank nie of die seuns het ook kom aanmeld om hierdie nuwe vaardigheid te bemeester.
Onder die geduldige leiding van Rachelle van der Merwe, die skool se bobaas-bakster agter die panne, het Eben Opperman en Wessel Potgieter die seuns gehelp om die braaivleisvure aangesteek te kry.
So tussendeur al hierdie aktiwiteite het die leerders in die swembad gaan afkoel en balspeletjies op die grasperk en in die water gespeel. Die oggend se aktiwiteite is ook met ’n vrolike jogasessie afgesluit, voordat daar vir oulaas in die swembad baljaar is.
Johlene Krüger wat verantwoordelik was vir die reëling van die buitelugopvoedingsprogram, het namens die skool die betrokkenes by Inxuba Yethemba-munisipaliteit bedank vir hul bydrae tot die suksesvolle uitstappie, asook vir Marlow vir die vervoer van die leerders.



