DIE Graaff-Reinet Waterkrisis-inisiatief is nog volstoom aan die gang.

Verlede Vrydag het Thobeka Booysen van die Giant Flag bottels water afgelewer by die Margery Parkes TB-hospitaal.

Samantha Graham, mede-organiseerder van die Waterkrisis-inisiatief, het almal in die gemeenskap bedank vir elke bydrae van water en houers.

“Die grootste uitdaging wat ons tans in die gesig staar, is dat ons desperaat op soek is na houers,” vertel Graham.

“Ons het heelwat aanbiedinge van water, maar ’n tekort aan houers waarin ons dit na behoeftige gesinne kan versprei. Die water-kwaliteit in die dorp het ’n bietjie verbeter, maar daar is steeds ’n ernstige tekort aan water en groot dele van die dorp sit vir lang tye met droë krane.”

Inwoners van Graaff-Reinet se buurdorp, Middelburg, kan ook help. Middelburg Forum het ’n dringende beroep op alle inwoners gedoen om enige skoon, leë waterbottels af te gee by GDE Leather in Meintjiesstraat of Naudéstraat 52.

Die bottels sal volgende week na Graaff-Reinet geneem word.

“Water is lewe!” sê Engela Kruger, voorsitter van die Forum. “Kom ons as Middelburg reik uit na ons buurdorp!” – ELSABÉ PIENAAR

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article