DIE lasersnywerk wat deur Boundless Beskermde Werkplek gedoen kan word, is ’n diens wat nog onderbenut is in Graaff- Reinet.
Bernard Zonge en Zorb Caryer is die gedugte span agter dié afdeling van Boundless, en ’n mens se mond hang eintlik oop wanneer jy die magdom kreatiewe idees sien waarmee hulle reeds na vore gekom het.
Die meeste artikels wat hulle vervaardig, is uit hout gesny, maar die laser kan ook gravering en snywerk doen op blikbekers, spieëls, glas en perspex.
Zonge is ’n kreatiewe man wat tans studeer en as vrywilliger by Boundless betrokke is, terwyl Caryer, ’n ingenieur, self ingespring het om die fondse in te samel vir die nodige laser-masjiene.
“Die masjiene word eintlik net beperk deur jou eie sin vir verbeelding,” het Caryer gesê.
“Ons maak nie net opvoedkundige speelgoed, korporatiewe geskenke en sleutelhouers nie, maar ook ingewikkelde driedimensionele legkaarte, pophuise en kersversierings.”
Besoek Boundless se geskenkwinkel by die Karoo Community Church op die hoek van Somerset- en Bourkestraat van Maandag tot Vrydag tussen 08:00 en 17:00, en Saterdae tussen 09:00 en 13:00 of kontak hulle by 049 892 3244.



