AS gevolg van die groot voorkoms van dwelm- en drankmisbruik op Cradock, is ’n kinderhuis, waar veral kinders ouer as twaalf jaar, versorg kan word, baie nodig.

Die plaaslike ACVV het reeds ’n huis wat moontlik omskep kan word in ’n kinderhuis geïdentifiseer, en nou is fondse om aanvanklik die huis te huur en later aan te koop, dringend nodig.

Vir hierdie doel beplan die bestuur die eerste langtafelete in Cradock wat op 3 April by The Palms gehou gaan word.

Volgens Rika Dannhauser van die ACVV is dit somtyds baie noodsaakik om kinders vir ’n tydperk onder die invloed van hul drank- of dwelmverslaafde ouers uit te kry. Sy sê die kinderhuis in Port Elizabeth is die enigste in die Oos-Kaap en hulle neem slegs kinders in wat jonger as twaalf jaar is. Hulle kan ook net twaalf kinders op ’n tyd akkommodeer met die gevolg dat kinders van Cradock nie altyd gehelp kan word nie.

“Alhoewel Huis Rosenhof in Bloemfontein ouer kinders inneem, is daar nie altyd plek vir die Oos-Kapenaars by hulle nie,” het sy gesê.

Ten spyte van die feit dat die plaaslike polisie verskeie kere in die nabye verlede groot dwelmfondse in die omgewing gemaak het, is die dwelmprobleem op Cradock baie groot en is dit kinders wat hieronder ly of self verslaaf raak. Die ACVV het ook ’n beroep gedoen op inwoners en besoekers aan die gebied om liefs nie geld te gee aan kinders wat tydens skooltyd op straat is en bedel nie.

“Hierdie geld word dikwels gebruik om gom of tik te koop. As u regtig wil help, koop liewer vir die kinders kos, alhoewel daar ook al gevind is dat hulle weer die kos verkoop om dwelms te kry,” het Dannhauser gesê.

Die huis waarin die ACVV belangstel, staan op ’n groterige erf en benewens die woonhuis is daar ook nog ’n kleinerige huisie op die perseel.

Hulle beplan om, wanneer hulle genoeg finansies het, die plek te huur en ses kinders en ’n pleegma in die kleiner huisie te vestig terwyl die groter huis ingerig sal word as ’n plek van veiligheid vir kinders wat nie langer as ses maande daar sal kan bly nie.

Die langtafelete gaan op 3 April om 19:00 onder die palmbome by The Palms plaasvind. Kaartjies kos R200 per persoon en is beskikbaar by die ACVV kantoor, by 048 881 3113.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article