GROOTFONTEIN Landboukollege op Middelburg het verlede Donderdag in samewerking met ander industrieë en onderriginstansies, asook die derde jaar landboustudente se produksie-eenhede ’n loopbaanuitstalling vir plaaslike en omliggende skole aangebied.
Meer as 400 leerders van Middelburg, Colesberg, Cradock, Noupoort, Molteno, Burgersdorp, Graaff-Reinet en Hanover het die dag bygewoon.
Grootfontein se direkteur, Tino Herselman, het die verrigtinge ge-open, waarna elke leerder ’n kospakkie en koeldrank ontvang het.
By die stalletjies kon hulle waardevolle inligting oor die bedryf, loopbane en studierigtings kry.
Daar is onder andere aan die leerders gedemonstreer hoe ’n skaap geskeer word, hoe om sekere diere te klas, hoe om ’n elektriese stroombaan te bou, asook wat die verskille tussen die kleinvee rasse in die landboubedryf is.
Die Graad 12 leerders van Hoërskool Middelburg was een van die skole wat die loopbaanuitstalling by Grootfontein Landboukollege bygewoon het. Hopelik sal die inligting wat aan leerders deurgegee is, hulle kan help met die groot keuses van toekomsplanne en beroepskeuses.
Die besluit oor loopbaankeuses is die belangrikste besluit wat leerders op hoërskool moet neem. Dit bepaal nie net alleen ’n loopbaan nie maar beïnvloed ook hul toekoms.




