Daar wag groot pret wanneer die personeel van Laerskool Cradock met die skoolbus by die see aankom, in die openingstoneel van A Million Dreams. Dié skoolproduksie word vanaand opgevoer. Foto:VERSKAF


DIT is vanaand die laaste vertoning van Laerskool Cradock se revue, A Million Dreams, wat in die AB du Toitsaal opgevoer word.

Al die leerders van die skool neem aan die revue deel. Die klasse het sedert die begin van Junie aan hul items begin oefen.

Selfs die personeel is in ’n vrolike luim te sien, wanneer hulle in die openingstoneel van die revue met “Vakansietyd” die saal binnekom. Die personeel swem kamtig vir oulaas op maat van Blue Danube in die see tot groot vermaak van die gehoor.

Daarna breek die nuwe skooljaar aan en die graad 7G- leerders van meneer Rouxan Engelbrecht arriveer met hul taxi.

Boelie is nie cool nie

Die revue, geskryf deur Kariena Schoeman, het ook ’n opvoedkundige storielyn. In die verhaal word ’n skoolseun, Janneman, gespeel deur Aidan du Plessis, deur ’n klasmaat, Paul (Steyn), geboelie.

Die gebeure in die klaskamer lei daartoe dat Janneman uiteindelik sy man staan en in homself begin glo. Jana Bezuidenhout speel die rol van die Juffrou en Zani de Bruin is ’n klasmaat.

Al die klasse vertolk verskillende karakters en uittreksels uit die storieboeke wat Janneman lees.

Lesse van die lewe

Die revue is saamgestel uit die lesse wat Janneman van die karakters in sy storieboeke leer en elkeen is verskillend en spesiaal op hul eie kreatiewe en unieke manier.

Die Minions, meneer Eben Opperman se graad 5E-klas, bied die skoolreëls deur ’n skouspel van dans, sang en musiek aan. Zenande Rasmeni is die Minion wat die video van die skoolreëls aanbied.

Wanneer ’n nuwe meisie in die skool deur die klasmaats verwerp word, leer haar maats op maat van Me Too, dat mens deur jou eie ding te doen, nuwe vriende kan maak. In hierdie item word die gehoor deur die besonder ritmiese danse en sang van die graad 7EE-klas vermaak. Hulle is afgerig deur Marisca Botha.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article