‘n Luiperd wat op die Mount Camdeboo Privaat-wildreservaat aan die voet van die Sneeuberge, buite Graaff-Reinet, opgemerk en gefotografeer is, sorg vir groot opwinding.
Die eienaar van die wildreservaat, Iain Buchanan, sê hulle is nou verseker dat die Groot Vyf in Mount Camdeboo tuis is.
“Ons was ongelooflik gelukkig met die seldsame ontdekking van hierdie manjifieke luiperd!” het hy vertel.
Grant Soule het die luiperd gedokumenteer terwyl hy oor die eiendom gevlieg het.
Soule vertel hy het gesien wat hy gedink het ‘n jagluiperd was wat op ‘n rots staan, maar toe hy naderkom het hy besef dit was ‘n luiperd, en ‘n gróót een daarby.
Buchanan sê volgens die groote van die luiperd word aangeneem dit is ‘n mannetjie. Hy is seker daar moet nog in die omgewing wees.
Die laaste konkrete bewyse van ‘n luiperd se teenwoordigheid in Mount Camdeboo, was toe een in 1996 op film vasgelê is.
“Bewyse dat daar nog is, is luiperdspore in rivierbeddings en hul baie besonderse roepgeluide in die nag, asook die manier waarop sekere prooispesies snags alarmoproepe gemaak het,” het Buchanan gesê.
“Na die beste van ons wete is luiperds nie amptelik in hierdie streek deur mense of ondersteunende beeldmateriaal sedert 1977 gedokumenteer toe daar ‘n luiperd op die hange van Tandjiesberg geskiet is, 25km wes van die een wat nou gedokumenteer is.
“Dit beteken om ‘n aantal redes ontsaglik baie vir ons by Mount Camdeboo, die plaaslike gemeenskap en die akademiese/navorsingsgemeenskappe.”
Hy vertel hulle het altyd geglo daar beweeg luiperds in die omgewing en nou het hulle die bewyse.
Volgens Buchanan gaan hulle nou, met die wete dat daar luiperds is, nog spoorkameras beter plaas om hul bewegings te monitor, wat sal lei tot ‘n beter begrip van hul bestaan ??in hierdie streek.
“Hierdie data sal ook ‘n vroeë waarskuwing vir ons boerdery bure verskaf om die impak wat luiperds op hul vee het, tot die minimum te beperk.”




