Inwoners van Komani moes Saterdagoggend in die vroeë ure toekyk hoe die 140 jaar-oue stadsaal in ligte laaie opgaan.
Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Vrydagaand omstreeks 23:45 tydens ‘n roetinepatrollie groot bondels rook uit die middestad omgewing opgemerk. By nadere ondersoek het dit geblyk dat daar ‘n brand binne die stadsaal ontstaan het.
Die GPF kon toegang tot die gebou verkry vanuit ‘n agterstraat, maar die agterste hoek van die gebou was toe reeds in vlamme gehul.
Volgens Juan van der Walt (42), woordvoerder van die GPF, is die hele GPF en vrywillige brandbestryders onmiddelik ontbied, omdat die plaaslike brandweerwa reeds die afgelope maande buite werking is. Twee watertenks is na die gebied gehaas, maar daar is gou besef dat die vuur besig was om die oorhand te kry.
Nadat verskeie raadslede uit hul nagrus ontwaak is, het sleutels uiteindelik opgedaag waarmee brandbestryders toegang tot die voorste ingang van die gebou (in Cathcartstraat) kon kry.
“Die hele verhoogarea van die stadsaal was toe reeds aan die brand, en die rook was so erg dat ons elkeen net sowat twee minute op ‘n slag in die gebou kon veg totdat ons buitentoe gedwing was om vars asem te gaan soek.”
Raadslede het probeer om ‘n watertenker van die Chris Hani-distriksmunisipaliteit of ander naburige dorpe te laat ontbied, maar hierdie pogings het geen vrug afgewerp nie.
Intussen het die vuur teen rasse skrede versprei. Nadat die eienaar van die werkswinkel waar die brandweerwa tans op herstelwerk wag, óók opgeklop is, is behoorlike brandslange en ander vuurvegtoerusting van die brandweerwa na die toneel gehaas.
“Ons kon daarin slaag om vanaf ‘n aanliggende gebou se dak met die brandslange te begin spuit. Daar is regtig verbete geveg om die brand onder bedwang te bring, maar ons het ongelukkig die stryd verloor, veral toe die vlamme blitsig versprei nadat dit die dak bereik het. Daar is toe baklei om skade aan omliggende geboue te minimaliseer.”
Dit is die vierde gebou van die Enoch Mgijima plaaslike munisipaliteit (EMLM) wat die afgelope twee jaar in vlamme opgegaan het.
In al vier gevalle is waardevolle en sensitiewe munisipale rekords vernietig, onder andere dokumente wat verdoemende getuienis van vuilspel en wanadministrasie binne die munisipaliteit sou onthul. Die jongste brand het vermoedelik onder die stadsaal se verhoog ontstaan, waar die munisipaliteit se argiewe gestoor is, maar die ware oorsaak van die brand word nog ondersoek.
“Ek is baie trots op die GPF-lede wat werklik hul lewens op die spel geplaas het in ‘n poging om die vuur onder bedwang te bring – die dak het ingestort ‘n skamele drie minute nadat ons die gebou verlaat het. Daar was ook ‘n groot aantal SAPD-lede, verkeerspolisie en ambulanse op die toneel. Die plaaslike brandweerhoof en -manne het ook opgedaag, maar hul hande was afgekap sonder broodnodige toerusting,” het Van der Walt gesê.
Hoewel die plaaslike munisipaliteit nog nie ‘n amptelike verklaring oor die gebeure uitgereik het nie, het Jane Cowly, DA MPL en plaaslike kiesafdelingsvoorsitter, haar sterk teen wanbesteding en gebrek aan rampbestuursplanne uitgespreek.
“Die plaaslike brandweerwa is al maande lank buite werking omdat daar kamtig geen fondse is om dit te herstel nie, maar intussen is die Speaker ‘n voertuig van byna R700 000 ryker, sonder dat dié besteding van munisipale fondse deur die raad goedgekeur is!” het Cowley vanoggend in ‘n persverklaring onthul.
Terwyl groot opruimingswerk nou voorlê, is inwoners nietemin bemoedig deur die gees van samehorigheid en aktiewe burgery wat deur die hele gemeenskap geopenbaar is.
“Mense het 02:00 in die nag vir ons water en koeldrank aangery, almal met voertuie met watertenks het kom hand bysit – dit het mens eintlik klein laat voel. Dít is die tipe dorp waarin mens jou kinders wil grootmaak, waar mense werklik vir mekaar omgee en saamstaan,” het ‘n emosionele Van der Walt, ‘n boorling van Komani, gesê.
- Die Komani-stadsaal se fondasie is in 1882 gelê, en die toring is in 1897 aangebring om die diamantjubilee van Koning Victoria te herdenk.



