’n GRANIETKRUIS in Middelburg se begraafplaas het in verlede week se gure weerstoestande groot skade aan grafte gekeer.
’n Yslike denneboom kon nie die aanslag van die stormsterk wind, wat met tye teen 70km/h gewoed het, oorleef nie.
Die boom het omgeval, maar wonderbaarlik tot rus gekom op ’n grafsteen in die Joodse afdeling van die begraafplaas.
Twee vroue, Marion Clare von Bratt en Alice Agnes Louw von Bratt, is onderskeidelik in 1979 en 1992 in dié graf begrawe.
“Mens kan eintlik nie glo dat die kruis die gewig van die boom kon dra nie, maar as dit nie vir die kruis was nie, sou meer grafte beskadig gewees het,” het raadslid Handri Vorster aan Mid-Karoo Express vertel.
Vrywilligers het verlede Donderdag en Vrydag groot dele van die boom verwyder, maar dit sal nog heelwat arbeid verg om die oorblywende stomp op te saag en die wortels uit te haal.



