DIE eindstryd van die Sentraal Karoo-krieket-unie is op Saterdag, 20 April ge-speel.
Die United-krieketklub van Graaff-Reinet het die eerste liga-beker vir die so-veelste keer in die bestaan van die klub verower deur af te reken met Steytlerville-krieketklub.
Twee neutrale skeidsregters van die OP krieket-unie het vanaf Port Elizabeth gekom om die wedstryd te behartig.
United-krieketklub het die loot gewen en gekies om eerste te kolf.
Aanvanklik het die boulers van Steytlerville-krieketklub die skroewe styf aange-draai en die kolwers moes hard werk vir hul lopies.
United het 215/5 behaal in hul toegelate 45 boulbeurte.
Goeie bydraes het gekom vanaf die kolf van Edorique Gouws (69), Ezra Gouws (55) en Luther Rogers (38 n.u.n). Die boulers wat paaltjies gekry het, is Darius de Jager (1/29), Dwuyne Hartzenburg (1/39), Donovan Killian (1/19) en Enwyn Daniëls (1/24).
In die kolfbeurt van Steytlerville (164/10) het kolfbydraes gekom vanaf Darius de Jager (34), Enwyn Daniëls (23) en Donovan Killian (16).
Marchelle Madeley (21/4), Carlo Adams (29/3) en Luther Rogers (33/2) het goeie bydraes met die bal gelewer.
United het die aanskoulike wedstryd met 51 lopies gewen.


