TERWYL die krane in groot dele van Graaff-Reinet steeds droog bly, is belastingbetalers ontsteld oor buitengewone hoë watermeterlesings.

Volgens verskeie inwoners kan daar daag-liks gesien word hoe lug in waterpype die meters laat rol. In een geval kla ’n inwoner dat sy normale maandelikse waterverbruik van ongeveer vyf kiloliter per maand na 200 kiloliter gestyg het, ten spyte daarvan dat daar feitlik nooit water beskikbaar is nie.

Michelle Erasmus, voorsitter van die Graaff-Reinet Belastingbetalersvereniging (GRRPA), het bevestig dat van hul lede met dié probleem gekonfronteer word.

Wilca Smith, woordvoerder van Beyers Naudé plaaslike munisipaliteit (BNLM), het bevestig dat die munisipaliteit al verskeie klagtes in dié verband ontvang het. Op dié vraag of BNLM erken dat lug op die water- meters registreer, het Smith geantwoord dat dit wel moontlik is, maar nie noodwendig die enigste rede vir hoë watermeterlesings kan wees nie.

“’n Ondersoek sal in elke individuele geval gedoen moet word om te bevestig of dit inderdaad lug is wat die betrokke watermeter laat aanbeweeg.”

Volgens Smith versoek BNLM belasting- betalers om sulke gevalle by die finansiële kantore van die munisipaliteit aan te meld, waarna daar ondersoek ingestel sal word.

“Indien daar bevind word dat ’n foutiewe rekening voor die munisipaliteit se deur gelê kan word, sal die rekening dienooreenkomstig aangepas word,” het Smith aan Komani-Karoo Express gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article