Op Adelaide is almal welkom mits hulle net hul eie water saambring. Die dorp gaan tans gebuk onder van die ergste waterbeperkings.Foto:NOLAN VENTER


IN die klein plattelandse dorpie Adelaide, geleë tussen Bedford en Fort Beaufort, is almal welkom met slegs een voorwaarde: bring asseblief jou eie water saam!

Dié dorpie gaan nou al maande lank gebuk onder van die strengste waterbeperkings, alles te danke aan die knellende droogte waarmee die streek tans sukkel.

In die Adelaidedam is tans net ’n katspoegie water oor. Selfs die Koonaprivier wat deur dié dorpie vloei is tans ’n droë loop met slegs dryfsand op sy bodem.

Louis Adriaan, afgetrede onderwyser op dié dorp het aan Mid-Karoo Express vertel dat sy kinders nou al die gewoonte aangekweek het om ’n goeie paar vyf liters gebottelde water met hulle saam te bring wanneer hulle kom kuier.

“Ons is gelukkig as ons in die oggend en miskien weer in die namiddag ’n lekseltjie water uit ons krane vir die dag kan kry,” het Adriaan gesê.

Ander inwoners wat oor die situasie gepols is, het gesê dat hulle maar al wat ’n skottel en emmer in die huis is volmaak as daar by geleentheid water uit die krane kom.

Die organisasie “Gift of the givers” het onlangs twee trokke vol gebottelde water op die dorp kom aflewer. Hoewel daar op verkiesingsdag ’n lekker reënbui oor die dorp uitgesak het, het dit nie die dorp se waterkrisis verlig nie en bly die gemeenskap biddend dat Adelaide binnekort met goeie reën geseën sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article