Koperdiewe het hulle Moses teëgekom op Cradock nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens met behulp van die NAVIC-kamera-netwerk, die voertuig wat by ’n koperdiefstalsaak betrokke was, op dié Karoodorp opgespoor het.
Die goue Mercedes Benz, met ’n Kwazulu-Natal registrasienommer, is Vrydag, 15 April, om 03:45 deur ’n NAVIC-kamera afgeneem en alarm is gemaak sodat CDK Sekuriteit en die Cradock polisie op ’n gereedheidsgrondslag vir die diewe kon wees.
In pogings om die voertuig tot stilstand te bring het ’n wilde jaagtog deur Cradock se strate ontstaan. Die voertuig het uiteindelik in Frerestraat, naby die kruising met die N10, teen ’n boom gebots.
Vyf verdagte persone het uit die voertuig gespring en probeer weghardloop. Die sterk teenwoordigheid van CDK Sekuriteit en die Cradock polisie het die diewe in in wegholpogings gestuit en al vyf verdagtes is aangekeer en gearresteer.
’n Groot hoeveelheid koper is in die bagasieruim van die voertuig sowel as in ’n sleepwaentjie gevind.


