Die Nasionale Wolkwekers-vereniging van Suid-Afrika neem met groot kommer kennis van die handelsverbod wat China op die uitvoer van lewendehaweprodukte van gesplete-hoefdiere vanuit Suid-Afrika, wat wol insluit, geplaas het.
Billy van Zyl, die NWKV se nasionale voorsitter het in ’n persverklaring gesê die verspreiding van bek- en klouseer onderstreep weereens die belangrikheid van goeie en gesonde biosekuriteitsmaatreëls vir elke produsent, maar natuurlik ook vir die owerheid.
“Produsente word aangemoedig om hierdie streng maatreëls na te volg en geen vee waarvan die oorsprong van die dier se status onseker of nie bekend is nie, aan te koop nie,” sê Van Zyl. “Die NWKV werk nou saam met alle rolspelers, insluitend die Nasionale Dieregesondheidsforum en die Direktoraat van Dieregesondheid van die Nasionale Department van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling om oplossings te vind.”
UITGEREIK: NASIONALE WOLKWEKERS-VERENIGING VAN SA

