: Middies se rugby- en netbalspanne het tydens die vakansie na Mosselbaai getoer. Foto: johanette photography


DIE Hoërskool Middelburg (Middies) spog met ’n bedrywige akademiese-, sport-, kultuur- en sosiale program.

As een van die top-presterende skole in die Chris Hani-wes-distrik, bied ons jou ’n wye vakkeuse en uiters bekwame opvoeders. “Karakter en Kennis” is ons leuse en daarom is dit ons voorreg om jou volle potensiaal te ontwikkel. Dit doen ons deur aan jou vele geleenthede te bied op sport-, kultuur- en sosiale gebied.

Rugby en netbal is die skool se wintersportsoorte en die seisoen word gewoonlik begin met ’n rugby- en netbaltoer na die Suid-Kaap waar spelers ook afrigting ontvang.

Middies se tennisspanne is baie besig en speel tydens die tennisseisoen baie wedstryde. Hul ontvang ook puik afrigting van afrigters en tans is Renaldi Steenberg, ’n gr. 11-leerder, opgeneem in die OP-tennisspan. Sy het ook tydens die vakansie haar staal op die tennisbaan gewys. Spelers onderneem ook jaarliks ’n tennistoer.

Muurbal is nog ’n gewilde sport en daar is afrigtingsklinieke beskikbaar waar jy jou vaar-dighede kan slyp. Wedstryde word gereeld teen spelers van omringende dorpe, asook tydens die jaarlikse muurbaltoer gespeel.

Krieketspelers word die geleentheid gebied om wedstryde teen omliggende skole te speel en ook deel te neem aan die Winterberg-liga, terwyl gholftoernooie ook gespeel word.

Atlete presteer uitstekend en Megan Newton, ’n gr. 9-leerder, het dié seisoen ’n derde plek in hoogspring tydens die SASA-byeenkoms behaal.

Hamergooi is ook ’n item wat met goeie afrigting puik resultate behaal.

Die jaarlikse interskole teen Kirkwood sorg vir baie opwinding. Gees word al vroeg in die derde kwartaal gebou en daar word op sport- sowel as kultuurgebied meegeding. Merk sommer dadelik 2 en 3 Augustus op die kalender wanneer die interskole (tuis) tydens die Hoërskool Middelburg se Eeufeesvieringe gaan plaasvind.

Drama, redenaars en skaak is maar enkele kultuurbedrywighede wat Middies aanbied. Mnr. en mej. MHS en verskeie sosiale geleenthede bied aan jou die geleentheid om sosiaal te verkeer.

Die LRR bied verskeie aktiwiteite aan waartydens hul fokus op waardes en tradisies.

Leierskap is belangrik en Middies bou aan die leiers van môre deur hul toe te rus met die nodige vaardighede.

Middies is ryk aan tradisie en het ten doel om ’n gebalanseerde, goed toegeruste individu die lewe in te stuur. By Middies geniet leerders nog individuele aandag en ken ons jou naam. Kies Middies!

  • Die Hoërskool Middelburg hou op 12 April ’n opedag. Sien onderstaande advertensie vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article