Kompasberg! Die roepstem van hierdie magiese berg naby Nieu-Bethesda, het oor die jare al hoe harder geword dat ek haar moet klim.
In September 2020 is ek toe reg vir die afspraak – met ’n self-geprakseerde wit vlaggie uit ’n ou kantgordyn.
Bereik ek die kruin, sal ek die vlaggie daar plant.
Ons ry 06:00 uit Middelburg, want dis beter om die tog berg-op so vroeg moontlik in die dag aan te pak. Die plaas Compassberg lê 30km op die grondpad na Richmond (moenie met jou laeprofielbande kom nie) en dan nog 30km op die grondpad wat na links uitdraai.
Jy kan die 8km tweespoorpad van die opstal tot aan die voet van Kompas met gemak stap. Eet aan die voet van die berg ’n ligte ontbyt, en dra net ’n rugsak met waterbottel, ligte versnaperinge en ’n windbaadjie berg-op saam met jou.
Die tog teen die berg op kan enigiets van twee tot vier ure duur. Jy kan dit soos my agtjarige uitdraf, of soos ek uitseil op boude, knieë, maag, en rug. Die eerste derde van die roete het my voete my nog teen die steil voetpaadjie uitgedra, die ander twee derdes was dit net gebed.
Dis ’n slim plan om Kompasberg te klim met iemand wat dit reeds vantevore aangepak het, selfs al is die roete vaagweg met klipbakens gemerk. Ek en die kinders sou aanvanklik alleen gaan, maar vriende het van die mal perd te hore gekom, en gesê hulle stap saam. Dit was ook maar goed so, want hoogtevrees kan ’n mens maklik van koers stuur.
Kompasberg troon 2 502 meter bo seespieël uit. Op die kruin het ek ‘n oomblik stil geword, daarna my wit vlag geplant vir oorgawe, vrede, en rigting. Dit was ’n helder, wolklose dag, en mens kon eintlik amper tot in die Baai sien. My en my kinders se name staan ook nou in die log-boekie op die kruin van die Kompas.
Sal ek dit weer doen? Ja.
Kortliks:
- Reël vooraf met Brenda James by 082 596 6475/ 087 150 4922 om die berg te klim
- Koste: R50 per persoon
- Geen klim in reën- of sneeutoestande, en wees gewaarsku: selfs op ’n windstil dag is daar erge rukwinde.
- Fiksheid: Goeie knieë en algemene fiksheid help.
- Blyplek: ’n Huisie op die plaas Lucernvale waar die skrywer GA Watermeyer van sy skryfwerk gedoen het (vra vir Brenda), of in Nieu-Bethesda, 40km grondpad van Kompasberg af.



