Bekende ruiter vanaf Kookhuis, Ezelle Marais, tydens verlede jaar se Hofmeyrskou. Hofmeyr sien uit daarna om talle ruiters en hul pragperde weer by Hofmeyrskou te verwelkom.Photo:TERESA OPPERMAN

Credit: SYSTEM

DIE hele gemeenskap van Hofmeyr staan soos een man saam om hul jaarlikse skou eerskomende naweek (15 en 16 Maart) aan te bied.

Daar heers groot opgewondenheid in die gemeenskap met elkeen wat besig is om sy of haar besondere voorbereidings te tref.

Die stalle word in gereedheid gebring vir inskrywings vir die perde-afdelings. Hugo Visser, een van die mees senior be-oordelaars sal die ongeveer 80 perde wat ingeskryf is, beoordeel.

Koos Pansegrouw, vanaf Rouxville, doen die aankondigings terwyl Koos du Preez vanaf Tarkastad reis om as klankman op te tree.

Altesaam 65 klasse word oor Vrydag en Saterdag aangebied en 10 kampioenskaps -perdeklasse word Saterdag rondom middagete aangebied.

Dan staan daar ook in krale oral in die distrik, skape wat gereed is om vertoon te word by die kuddekompetisies. Uitstallers se veteraantrekkers en enjins is reeds blink en goed geolie om vertoon te word.

Deelname aan die Boeresport op Saterdag is altyd groot pret.

Die kleinspan kan baljaar op die springkastele terwyl Ma en Pa tussen die stalletjies drentel.

Die hondeskou lewer elke jaar opwindende inskrywings wanneer daar met honde van alle rasse gespog word, en borge sorg ook dat daar goeie pryse be-skikbaar is om aan die wenners in elke afdeling te oorhandig.

Janique Fourie van Lionelsvet borg die Hondeskou met Lionels Choice hondekos as pryse. Obré van Heerden tree as beoordelaar op.

Die plaaslike VLV-tak beplan ’n panne-koekstalletjie, terwyl die NG Gemeentevroue die skoukombuis sal beman.

Juan Boucher tree Vrydagaand by die skoudans op. Kaartjies hiervoor kos R130 per volwassene en R50 per kind.

Hierdie vertoning begin Vrydagaand om 19:00. Kontak gerus vir Elisma de Jager by 078 342 5768 of Colette Vermaak by 073 220 2737 vir besprekings of navrae.

Daar sal ook ’n gesellige koffie en kuierkroeg vir die hele duur van die skou wees waar heerlike koffie en tuisgebak be-dien sal word. Isabel Wilken is in beheer daarvan.

Tydens die damesoggend wat Saterdag-oggend vanaf 09:00 tot 11:00 aangebied sal word, gaan vroue-gefokusde praatjies gelewer word rondom liggaamlike ge-sondheid, skoonheid, kreatiwiteit en voorkoms.

Hierdie geleentheid is gratis en word naby die koffiekroeg aangebied sou enige gas graag ’n koppie koffie of tee en tuisgebak daarmee saam wou geniet.

Toegangsgeld by die hekke is R30 vir volwassenes en R20 vir kinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article