FIKSE en flukse stappers kan vanjaar weer op Saterdag 11 Mei die “Hobble & Hike” tussen Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda aanpak.
Dié jaarlikse staptog van sowat 47km is ’n bewusmakings- en fondsinsamelingsveldtog ten bate van die Camdeboo Hospice, ’n geregistreerde liefdadigheidsorganisasie in Graaff-Reinet.
Elke vrywilliger poog om R1 000 of meer in borggeld in te samel, en alle fondse wat ingesamel word, word direk aan die Hospice geskenk. Dít stel die organisasie in staat om broodnodige ondersteuning te bied aan behoeftige families wat deur lewensbedreigende siektes geraak word. Die “Hobble & Hike” is die eerste keer in Oktober 2012 gehou met net ’n handjie-vol deelnemers.
“Ons was maar 17 stappers,” vertel Maeve Strydom, wat al sedert die begin by Camdeboo Hospice betrokke is. “Ons doen dit omdat ons kán,” sê Maeve, “en omdat ons deur die bietjie ‘lyding’ wat ons vir ’n paar ure op die pad verduur, die aandag wil vestig op diegene wat swaar lyding weens lewensbedreigende siektes ver- duur.”
Volgens organiseerder Sharon Shell, self ’n deelnemer sedert 2014, neem die staptog elke jaar in gewildheid toe, nie net omdat dit vir ’n verdienstelike saak is nie, maar ook omdat die stap al langs ’n mooi agterpad tussen Graaff-Reinet en Nieu-Bethesda plaasvind.
Daar is sover nagenoeg 80 deelnemers. Die staptog begin op 11 Mei om 06:00 wanneer deelnemers ontmoet in Stockenstroomstraat by die Botaniese Sportgronde van waar hulle vervoer sal word na die Dassiesfontein-afdraai op Ouberg. Die stappery eindig by die tennisklub in Nieu-Bethesda, waar daar eers lekker saam gebraai word en van waar vervoer vir deelnemers terug na Graaff-Reinet verskaf word.
Belangstellende deelnemers, asook individue en besighede wat dalk as borge ondersteuning wil bied, kan Sharon Shell kontak by 084 548 5373 of e-pos na shazshell1@gmail.com.




