’n VOORVAL waarin ’n koedoe-ooi ’n paar weke gelede oënskynlik lewend geslag is, word nou deur die polisie ondersoek.

Mid-Karoo Express het op 7 Maart vanjaar oor die voorval berig. Die gru-daad is in die vroeë oggendure ten aanskoue van inwoners in ’n straat van die Newtown-woonbuurt op Fort Beaufort gepleeg.

Die Burger het verlede Vrydag op sy voorblad ’n berig oor die verwikkelinge rondom die voorval geplaas. Dit wil nou voorkom dat die toneel waar die koedoe geslag is, nou deur die polisie as ’n misdaadtoneel beskou word. In die berig word onder meer genoem dat die departement van omgewingsake die voorval ondersoek.

Die berig is ondersteun deur ’n skermgreep van ’n video wat duidelik wys hoe die koedoe met skerp voorwerpe geslaan en lewend oopgesny word. Honde wat aan die dier se agterpote byt terwyl hy op die grond lê is op die videogreep ook duidelik sigbaar.

Die berig noem voorts ook dat kaptein Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, bevestig het dat ’n saak by die Fort Beaufort-polisiekantoor geopen is, maar dat die departement van omgewingsake die ondersoek oorgeneem het.

Dié departement het glo by monde van sy woordvoerder, Ncedo Lisani, bevestig dat die saak deur hulle ondersoek word. Luidens die berig gaan die (DBV) ook met ’n ondersoek voort, aldus die bestuurder, Douglas Wolhuter.

Mid-Karoo Express is in besit van ’n foto van die toneel waar die betrokke koedoe geslag is.

’n Gesoute jagter en eienaar van ’n plaaslike slagtersbesigheid, Darryl Fetting het by navraag aan Mid-Karoo Express gesê dat koedoes skugter diere is wat ten alle koste kontak met mense sal vermy.

“Koedoes sal nooit sommer naby woonbuurte kom nie tensy hulle daarheen gejaag word,” het Fetting gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article