’n VYFJARIGE kleuter het verlede Maandag erge brandwonde aan haar kop en regterarm opgedoen nadat sy deur ’n elektriese lading van ’n munisipale kragboks in die Newtown-woonbuurt geskok is.
Die dogtertjie, Chivandré Wentzel, was verlede Maandagmiddag omstreeks 15:30 besig om met ’n vriendin op die kragboks te speel toe die voorval gebeur het.
Die kleuter se oom, Thembinkosi Mfusi, het aan Mid-Karoo Express vertel hoe hy op dié traumatiese dag binne die huis gesit en gehoor het hoe Chivandré se maatjie histeries na haar roep.
“Ek het uitgehardloop en haar op die grensdraad langs die kragboks sien lê. Sy was bewusteloos.”
Mfusi het die kleuter gegryp en met haar in sy arms na die kliniek gehardloop. Hy is self ook geskok toe hy haar van die grond optel. Die kliniek het hom aangeraai om die kind hospitaal toe te neem. Hy het toe in ’n motor met haar na die hospitaal gejaag.
Sy is opgeneem vir waarneming, maar is kort daarna na ’n hospitaal in Oos-Londen oorgeplaas. Klein Chivandré het eers in die Cecilia Makiwane-hospitaal haar bewussyn herwin.
Petronella Wentzel (35), die kleuter se ma, het vertel dat sy byna flou geword het toe sy by haar werk die tyding van die ongeluk kry.
“Ek het die ergste verwag omdat dit nie die eerste keer is dat kinders in ons woonbuurt deur elektriese krag geskok word nie.”
Luidens Wentzel het hulle hul raadslid, Elten Bantam, oor die voorval ingelig.
“Hy het ons na die elektrisiteitsafdeling verwys. Ek verneem hulle het intussen na die boks kom kyk, maar het geen terugvoering aan ons gegee nie,” het Wentzel gesê.
Klein Chivandré is die afgelope Dinsdag weer terug hospitaal toe vir ’n kopskandering om vas te stel of sy nie enige breinskade opgedoen het nie. Mid-Karoo Express het ’n elektrisiën op die dorp, asook ’n voormalige werker by die dorp se elektrisiteitsdepartement, Charles Anderson, oor die gevare wat kragbokse vir kinders en selfs volwassenes inhou, gaan pols.
Luidens Anderson is die gebied rondom ’n kragboks uiters gevaarlik.
Dis nog gevaarliker as kinders daarop speel want ’n elektriese lading kan enige tyd daardeur hardloop.
“Dis glad nie ’n plek om op of selfs naby te speel nie,” het Anderson gesê.
Hy het kinders gemaan om met die oog op die naderende skoolvakansie van kragbokse af weg te bly.



