CRADOCK Voorbereidingskool se leerders het vanjaar met Valentynsdag gefokus op hul liefde vir diere.
Volgens Karin Swart, wat die reëlings ge-tref het, was hul plan om die kleinspan te leer hoe om iets vir die gemeenskap te doen.
Elke kind in die skool is gevra om dierekos te bring in ruil waarvoor hulle die dag gewone klere kon aantrek.
Om Valentynsdag te vier, was die kleinspan uitgedos in rooi, swart en wit en het die skool se vragmotor gekreun toe al die sakke, blikke en pakkies honde- en katkos opgelaai is. Die skool se interne studente het vir die geleentheid versierde suigstokkies en mooi gevormde hartjies by die snoepie verkoop.
Die dierekos is ná skool by die plaaslike diereskuiling afgelaai. Volgens Swart is hulle van plan om volgende jaar met Valentynsdag geskenke vir Ouma en Oupa in die tehuis vir bejaardes in te samel.


