TEN tyde van ’n onlangse besoek aan die mooiste Kaap verkyk ek my behoorlik aan my kleinseun.
Kleinkinders is mos eenvoudig net elke grootouer se trots. Op sestien maande hardloop die klong al die ganse huis vol. Goddank die vloere is nie van plank nie. Dit sou my seer sekerlik tot raserny gedryf het. Aan energie het hy absoluut geen tekort nie en Ouma en Oupa moet kort-kort die lafenis van ’n sagte rusbank opsoek om weer asem te skep.
Mens weet mos nooit tot watter katte-kwaad hulle om die eerste draaitjie in die huis in staat is nie en daarby kan ’n val op vandag se klipharde vloere van beton nogal katastrofies wees.
Waar ek as laaitie op ’n biesiesmatjie op ons voorhuis se beesmisvloer geslaap het, het die outjie sy eie kamer. Kompleet met ’n snoesige bedjie waarin selfs Sneeuwitjie van ouds die lieflikste drome sou droom.
My oë wil uit hul kaste van bykans ses de-kades val wanneer ek my verkyk aan die magdom speelgoed van alle vorms en kleure. Daar is ontelbare balle, opvoedkundige bou-blokke, rygoed, inkleurboeke – te veel om op te noem. My brein maak sommetjies van hoe-veel voggies ek met die waarde daarvan my private kroegie tuis sou kon bevoorraad.
In my verbeelding sien ek myself op sy ou-derdom halwe bakstene en ronde rivier-klippe onder die groot akkerboom op my plattelandse geboortedorp rondstoot. Karig geklee in ’n verbleikte onderhempie waarvan ek die voorkant reeds met my melktandjies aan flarde gekou het.
Ek brand om met hom op my skoot in ons motor om die woonstelblok te ry, maar sy ma weier volstrek. Die rede – my voertuig is nie soos hare met ’n SABS-goedgekeurde baba-sitplek toegerus nie. Praat van veiligheidsbewus!
Kaalvoet mag hy ook nie loop nie en op sý skrale ouderdom het hy reeds ’n magdom paar skoentjies waaruit hy maklik al om die derde week groei.
Soggens word hy soos ’n suidpoolse eskimo’tjie vir speelskool toegedraai en word die kosbare bondeltjie in sy spesiale sitplek vasgegespe. Ek wil by geleentheid vir die vale keer toe sy ma hom eendag ’n eetlepel groen medisyne wil injaag om sy ligte koors te breek. In my onkunde dink ek mos dis ’n stywe dop pepermentbrandewyn wat die outjie se asem heeltemal sal wegslaan. Mý koors het oor’le Ouma sommer met ’n halwe aspi- rientjie gebreek wat sy met haar wysvinger by my agterent opgedruk het.
Van die verskeidenheid eetgoed wat na sy spysverteringstelsel pad vind sê ek liewer niks. Van gebalanseerde maaltye tot lekkernye. Praat van ’n gesonde eetlus! Nóóit sal ek mý eenvoudige kinderkossies van geskroei-de meel, Klim melkpoeier en vaal mieliewater met ’n tikseltjie sout, peper en Pretvet vergeet nie.
Nee kyk, vandag se babas word behoorlik in watte toegedraai en hulle lewe volgens ’n vasgestelde roetine. Gee my maar enige tyd my kinderdae van kniekoppe wat nerf-af ge-val is, ’n groottoon wat bloedneus teen ’n klip gestamp en ’n paar voetjies wat deur dorin-kies voos gesteek is. Om nie eers te praat van daardie lampie op my voorkop as ek in stikdonkerte in ’n kas of muur vasgeloop het nie.
Dís mos juis die dinge wat kindwees so lekker maak . . .

