“DIT is elke persoon in ons gemeenskap se verantwoordelikheid om betrokke te raak waar kinders se menswees weens seksuele misdade geskaad word.”

Só sê maatskaplike werker Elize Jagers van Cradock se kindersorg (Child Welfare South Africa), nadat hulle Michausdal Primêr en Carinus Primêr se graad R en graad 1 leerders besoek het om hulle bewus te maak van seksuele misdade.

Jagers is op dié besoeke vergesel deur maatskaplike werkers Ntando Makwakwa, Ricardo Peters, Mthizamayedwa Nkonzo (maatskaplike hulpwerker) en Chanelle Jacobs (student maatskaplike werker).

“Deur middel van ’n video en praatjies het ons leerders bewus gemaak van die belangrikheid dat hulle beskerm moet word teen molestering en verkragting,” sê Jagers. “Dit was beklemtoon dat dit nie net vreemdelinge is wat hulle kan molesteer nie, maar selfs persone met wie hul bekend en vertroud is. Daarom is dit belang-rik om dit te rapporteer en indien hul nie geglo word nie, moet hulle aanhou om iemand te vertel totdat hul geglo word.”

Volgens Jagers gebeur dit soms dat ouers nie hul eie kinders glo nie omdat dit as ’n skande beskou word wanneer jou kind gemolesteer of verkrag is. Ouers wil dit soms ook nie glo nie omdat ’n bekende persoon die misdaad gepleeg het en hul dié persoon beskerm.

“Ouers moet onthou dat molestering en verkragting ’n enorme emosionele impak lewenslank op ’n kind maak,” sê Jagers.

Cradock kindersorg lewer dienste in Michausdal en Hillside. Vir meer inligting bel die kantoor by 071 405 8392.

– UITGEREIK: CWSA CRADOCK

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article